Jul - Aug 2003
Indeks:
n
LEWE GOED BESTEE OF VERKWIS
'n Daaglikse koerant van KwaZulu-Natal het met 'n wonderlike boodskap vorendag gekom in
die afdeling oor doodsberigte - iets waaroor net eenvoudig gespreek moet word.
Terwyl ek noukeurig deur die doodsberigte gelees het, het ek afgekom op hope doodsberigte
wat eenvoudig bewys het dat die afgestorwene hoegenaamd geen Christelike erfdeel nagelaat
het nie. So veel as wat die familie en vriende die ouer of vriend liefgehad het, was dit
duidelik dat enige melding van die Here of hoop op die hemel, waarneembaar was juis in die
afwesigheid daarvan. Dink bietjie na oor die volgende: (name is doelbewus weggelaat, maar
die kennisgewing is onveranderd.)
- "Ek sal jou meer mis as wat jy ooit kan besef. Vlieg hoog, ons liefste mams."
- "Hierdie was jou geskenk aan die wêreld. Jy was 'n man van onbeperkte
vrygewigheid, onbaatsugtig, verby menslike grense. Gevul met die gees van lig."
- "Nou kan jy met die feetjies dans."
- "Jy sal my Engel en Blinkende Ster wees."
- "Sweef met jou duiwe, pynloos en in vrede..."
- "PA, PA HET VIR ONS CHRISTUS GEGEE
- "Pa, die grootste erfenis wat Pa aan my nagelaat het, is die gawe om Jesus Christus
as my Verlosser en Saligmaker te ken. Alhoewel ek Pa mis, rus ek in die wete dat ons
eendag van aangesig tot aangesig sal ontmoet."
- (oor dieselfde man) "U het gelewe om God te behaag en u edel lewenswyse het ons
harte geraak. U het die wedloop gehardloop, u het die stryd van die geloof geveg en nou
rus u in die arms van Jesus. Ek is trots daarop om u as my vader te kon hê."
- (weer oor dieselfde man deur 'n ander familielid) "Die grootste geskenk wat 'n
vader aan sy familie kan gee, is die Woord van God, want daarmee saam kom vrede,
voorspoed, oorvloedige rykdom, vreugde, leierskap en heerskappy en die hoop en belofte van
'n ewige lewe met Christus."
Die bevelvoerder van die Columbia ruimtetuig, waarvan die skip en sy bemanning vergaan
het in die rampspoedige terugrit, het 'n Goddelike erfenis aan sy familie nagelaat. Dít
is wat Rick Husband vir sy kinders gedoen het voordat hy op sy laaste noodlottige rit
vertrek het: Hy het 17 video's vir sy dogter en 17 video's vir sy jongste seun gemaak,
elkeen 'n "oordenking met Pappa" vir elke dag wat hy geskeduleer was om weg te
wees - dit was Pappa met die Woord van God en Pappa wat saam met hulle gebid het. Kan u
uself indink wat 'n skat dit vir hulle sal wees?
Lewe 'n lewe wat onthou sal word as godvresend. U mag dalk nie 'n hegte familie of kinders
hê nie, maar die Here het u geroep om u lewe uit te stort vir dié rondom u.
Ten laaste, wat werklik belangrik is, is hoe God jou sien. Hy sal die finale woorde
omtrent jou lewe skryf.
"En die wat baie tot regverdigheid lei, sal skitter soos die sterre vir ewig en
altoos".
Dan. 12:3.
"Haar seuns tree op en noem haar gelukkig
" Spreuke 31:28
- 'n Amerikaanse koerant het die volgende uittreksel omtrent die begrafnis van 'n
bekende bokser geplaas: Verlede week tydens die begrafnis het Justin vir 'n rukkie by die
oop kis stilgestaan en 'n St. Christopher medalje om die nek van sy eertydse skermmaat
geplaas. Dit is bygevoeg by verskeie rosekranse, 'n hangertjie met 'n afbeelding van
Hoogheid van Guadalupe en 'n paar helderrooi bokshandskoene, wat saam met hom begrawe is.
"Joe is nou daarbo," het Pierce daardie dag gesê, "besig om met die engele
te veg."
Sou u daarvan hou om só onthou te word?
- Hier lê 'n man wat sy ganse menslike lewe, gebruik het om horlosies te herstel, maar
nie sy vrou kon herstel nie.
Die lawaai van sy wekker was nooit so skril Soos haar tong, wat altyd geklap het soos 'n
meule,
Maar nou's hy weg, o waarheen? Dit kan niemand sê
Ek hoop buite bereik van die klank van ou Mally se klok.
- Die kinders van Israel wou brood hê
En die Here het aan hulle manna gestuur,
Ou klerk Wallace wou 'n vrou hê,
Toe stuur die Duiwel vir hom Anna.
- Die volgende is in die Necropolis, Glasgow:
Hier lê Bessie Bell
Maar waar sy is,
weet ek nie.
- In 'n Turmont, Maryland,
begraafplaas:
Hier lê 'n Ateïs
Uitgevat
En geen plek om heen
te gaan.
- Vir 'n bankier van Londen
"Onder hierdie steen lê ou Abraham:
Niemand lag en niemand huil:
Waarheen hy is en hoe hy vaar,
Niemand weet en niemand traak".
(na indeks)
CFT
NEEM DEEL IN TV-DEBAT OOR ABORSIE
Christene vir die Waarheid het op 6 Mei deelgeneem aan 'n debat vir die
televisieprogram: 'The Big Question', wat op SABC2 uitgesaai is. Die onderwerp was:
"Aborsie: Moet Aborsie toegelaat word?"
'The Big Question' is 'n televisieprogram wat deur die SABC se godsdienstige departement
gemagtig is vir 'n tweede opvolgreeks. Elke week word 'n "Groot Vraag" gevra wat
mense uitdaag om na te dink oor hulle eie morele raamwerke.
Linda Magqabi (Voorsitter van CFT Mpumalanga) het CFT se pro-lewe standpunt op die paneel
verteenwoordig. Ook op die paneel was Dr. Eva Seobi van Dokters vir Lewe (pro-lewe),
Willem Landman, die CEO van 'Ethics Institute of SA', 'n artikel 21-organisasie
(www.ethicsa.org) wat gedebateer het ten gunste van aborsie, asook Cathy Albertyn van die
Toegepaste Regstudies by Wits Universiteit. Cathy is veral betrokke by 'n reproduktiewe
regte organisasie.
CFT-lede wat in die gehoor teenwoordig was, is Daniel Matomela, Grace Bezuidenhout en
Lydia Pheko, hulle het elkeen die geleentheid gehad om hul mening te lug.
Aan die einde van die debat het die gehoor oorweldigend vir pro-lewe gestem. Na die debat
het een van die mense wat ten gunste van aborsie was aan Linda erken dat die uitslag van
die stemme nie 'n verrassing was nie, aangesien Suid-Afrika oorwegend pro-lewe is.
Die debat is op 15 Mei uitgesaai.
Kathy Hearn, een van die program-organiseerders, het CFT meegedeel dat die program hewige
reaksie uitgelok het. Van die luisteraars wat ingebel het, was 974 ten gunste van aborsie,
2760 DAARTEEN en 258 het bykomende kommentaar gelewer.
CFT bedank Linda en die ander vir hulle ondersteuning.
(na indeks)
Die tweede deel van die artikel oor
liggaamswysiging is nie in hierdie uitgawe geplaas nie, maar sal in die September/ Oktober
2003 uitgawe verskyn.
WARE LIEFDE WAG
VERSLAG
WLW was die afgelope twee maande besonder besig met toere, dagbesoeke en byeenkomste in
verskeie dele van ons land, met verbasende resultate waaroor ons baie dankbaar is.
Van al die verskillende uitreike, wil ons graag kommentaar lewer oor die een uitreik na
Lichtenburg.
Ware liefde Wag en TNT (The Naked Truth about Drugs) asook 'n spreker oor Rock Musiek is
uitgenooi na 'n Jeug week by die Afrikaanse Protestante Kerk in Lichtenburg vanaf 14-17
April 2003.
Die Ware Liefde Wag aand is geopen met die drama "Die Pêrel", waarin reinheid
uitgebeeld word as 'n kosbare pêrel. Die Boodskap van vergifnis en vernuwing vir dié wat
reeds hulle reinheid verloor het, is ook duidelik uitgebeeld deur die Kruis van ons Here
Jesus Christus. (Alhoewel ons nie beskou kan word as Top-Akteurs nie, is dit tog verbasend
wat 'n groep jongmense met 'n brandende boodskap kan doen.)
Die span, bestaande uit Johan Claassen, Liam Buys, Rianne Mout en Janetta Combrink het toe
gepraat oor wat ware liefde regtig beteken, en wat dit beteken om seksueel rein te lewe
voor die huwelik.
'n Jong meisie het die opmerking gemaak dat daar sekere praktyke of standaarde is, wat
algemeen aanvaarbaar word in die samelewing en selfs in die kerk, wat jongmense aanmoedig
tot seksuele onreinheid.
Sommige van die jongmense wou ook weet hoe om skoolmaats te hanteer en te help wat
seksueel aktief is.
Meer as 70 jongmense het van die WLW-beloftekaarte ingevul.
Wat ons kan aflei uit wat die jeug van verskeie denominasies ons vertel het, is dat selfs
in die kerke 'n boodskap soms gepreek word, wat volgens hulle oordeel nie aan God se
standaard vir jongmense voldoen nie.
Die gasvryheid van die Fouchés en die Meyers was 'n ekstra seën vir ons wonderlike week.
(na indeks)
NUUS OOR VERVOLGING
Shiite Moslems dreig ware Christelike vryheid in Irak
(Bagdad) Vir Christene in Irak is hierdie 'n vreemde tyd; hulle hang tussen die hoop
dat hulle ware godsdiensvryheid mag kry, en die vrees dat hulle die regte wat hulle gehad
het, mag verloor. Terwyl Hussein aan bewind was, is Christene nie toegelaat om
godsdienstige skole te open, of om bekeerlinge buite die kerk te maak nie. Hulle kon egter
gereeld kerkdienste hou, het kerklikes gesê.
Die "Los Angeles Times" berig dat Christene sê hulle word getreiter en gedreig
deur lede van die Shiite Moslemgroepe, wat na mag gryp en angstig voorkom om Irak te
omvorm tot 'n Islammitiese Republiek.
Monsignor Ishlemom Wardini, mede-biskop van die Chaldese Patriarg in Irak, het volgens
herhaalde berigte in 'n brief aan die afgetrede Weermag Luitenant-Generaal, Jay Garner,
hoof van die na-oorlogse heropbou pogings in Irak, gesê: "Ons wil aan die
Amerikaners sê dat ons 'n geskiedenis van 2000 jaar in hierdie land het. Ons wil aan
hulle vertel, dat ons ons geloofsvryheid en kulturele regte terug wil hê... Sekuriteit is
die belangrikste probleem waarna ons wil hê Amerika moet kyk." (latimes.com, 9 Mei)
(na indeks)
VAN DIE CFT-PRESIDENT
My liewe vriende
Een van die grootste aanpassings wat motor neuron siekte (MND) in my lewe teweeggebring
het, is die verandering van die rol wat ek speel.
My broer, Moses, het my altyd daaraan herinner dat ek sedert kleintyd die woordvoerder vir
die ander kinders was. Dus het ek daaraan gewoond geraak om saggies van agter te hoor,
"Gaan praat jy met Pa
" Moses het altyd gesê dat ek sy Aäron is.
Skooljare was nie veel anders nie. As ek nie aangebied het nie, sou ander dit namens my
doen. Uiteindelik moes ek dus dikwels die woord voer, onvoorbereid.
Onlangs gedurende 'n besoek, het 'n vriend en klasmaat van die hoërskool Dlangezwa, Dr.
Isaac Mtshali, my herinner aan 'n toespraak wat ek namens die matriekklas gemaak het
tydens 'n besoek aan die Ingwemabala hoërskool in 1975. Dit was na die dankbetuiging dat
Mnr Mavundla, prinsipaal van Ingwemabala gesê het, "Ek is geraak deur die soepelheid
en plooibaarheid van hierdie jong man se tong."
In die bediening, het ek behalwe preekgeleenthede ook die voorreg gehad om vir mense uit
verskillende wêrelddele te tolk. Ek het dit geniet om na die verskeidenheid aksente te
luister en om die boodskappe oor te dra.
Wel, MND het dit alles verander. Moses moet nou my Aäron wees. Weg is die soepel en
plooibare tong. My familie en naby vriende het my tolke geword.
Dis soms pynlik om te sien hoe mense sukkel om te verstaan wat ek probeer sê. Ek weet
presies wat ek wil sê, maar ekself besef hoe skeef die woorde is.
Terwyl ek daaroor nagedink het, het 'n gedagte by my opgekom.
God in die hemel het baie om mee te deel aan sy mense hier op aarde. In Sy ewige wysheid
het Hy gekies om mense soos ek en jy te gebruik. Hy het ons nodig as woordvoerders en
tolke.
'Geestelike MND' kniehalter vele wat vir God moet praat. Sonde en louheid het hulle
geneutraliseer. Ja, vele preek, maar die boodskap is dikwels so onduidelik en verdraaid
dat dit baie min uitwerking het. Dié wat na hulle kyk vir 'n goddelike wandel word verwar
en gefrustreer deur hulle 'lamheid'.
O God, wees ons genadig!
"Toe het ek die Here hoor vra: "Wie kan Ek stuur? Wie sal ons boodskapper
wees?" Ek het geantwoord: "Hier is ek! Stuur my!"
Toe het die Here gesê: "Gaan sê vir hierdie volk
" (Jesaja 6:8-9).
"Want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. Maar hoe kan 'n mens
Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor
het nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom
hoor sonder iemand wat preek?" (Romeine 10:13-14).
(na indeks) |