Jan - Feb 2003
Indeks:
INTERNASIONALE LEWENSKETTING-AKSIE -
DURBAN
Duisende mense het die pro-lewe boodskap op Internasionale Lewenskettingdag, 6 Oktober,
gehoor. CFT het 'n opelug-program gereël in samewerking met 'n aantal kerke en
organisasies. Omtrent 5 duisend pamflette is die dag vantevore versprei om die geleentheid
te adverteer.
Die hoofdoel van die Lewensketting-aksie was om mense se aandag op die waarde van die
onge-bore kind te vestig. Hoewel aborsie in Suid-Afrika gewettig is, is dit nog steeds
moord in God se oë.
Ons het "The Workshop" as vergaderplek gekies omdat dit 'n stampvol plek is wat
deur jonk en oud besoek word vir inkopies of om te eet. Meer as 200 pro-lewe ondersteuners
het plakkate vertoon met die slagspreuk: "Aborsie maak babas dood", en het die
straat en park in stilte omring. Ander het traktaatjies en pamflette uitgedeel met die
doel om kontak te maak.
Met die hulp van Radio Khwezi, het CFT 'n "skyn"-radio (bekend as Radio Lewe)
opgestel, vanwaar boodskappe en nuusbulletiens uitgesaai is wat mense ingelig het oor die
gevaar van aborsie. Sprekers van verskillende kerke het boodskappe van hoop gebring.
Advertensies van verskeie organisasies soos 11de Uur Berading, Ware Liefde Wag, Dokters
vir Lewe en Siele-Uitreik kon ook op Radio Lewe gehoor word. Pastoor Alvis van
Siele-Uitreik het 'n Evangeliese boodskap gebring, en 'n uitnodiging tot oorgawe gemaak.
Later het eerwaarde Joyce Adams van Amerika 'n boodskap uit Gods Woord gebring. Daar was
'n bemoedi-gende reaksie.
As geheel gesien, was dit 'n baie suksesvolle veldtog. Ons moet nie moeg word om hierdie
boodskap uit te dra nie. As God se kinders is dit ons plig om voortdurend die weg aan te
wys. Die volgende pro-lewe aksie waarby CFT betrokke sal wees, is Onskendbare
Lewe-Sondag op 2 Februarie 2003. Ons sal die ongeveer 270 000 Suid-Afrikaanse babas
onthou wat geaborteer is sedert die wettiging van aborsie op aanvraag in Suid-Afrika op 1
Februarie 1997.
"Praat, en lewer regverdige uit-sprake, laat reg geskied aan die armes en
ellen-diges" (Spreuke 31:9).
WARE LIEFDE WAG - NUUSFLITSE
WARE LIEFDE WAG (WLW) het plakkate oor reinheid voor die huwelik gedruk en uitgestuur
na al die hoërskole in KwaZulu-Natal. Dit was n geweldige taak en vrywilligers is
gebruik om 'n meegaande brief saam te verpak met die omtrent 1 800 plakkate wat gestuur
is. Ons vertrou dat die plakkate die skole sal bereik en opgesit sal word vir Wêreld
Vigsdag op 1 Desember.
Ware Liefde Wag beplan ook om 'n WLW-radioadvertensie sowel as n persverklaring
gereed te hê vir daardie dag. Gedurende die feesseisoen, is beplanning en vars
vooruitsigte vir 2003 op ons program.
'n Verdere hoogtepunt was die WLW-uitreik in Calvinia in die Noord-Kaap waar die boodskap
van reinheid versprei is oor die plaaslike radio-stasie, by skole, kerke en selgroepe.
HOF GEE ROOI LIG VIR BORDELE
Die Grondwetlike Hof het prostitusie sowel as die besit van 'n bordeel onwettig
verklaar. In 'n naelskraap beslissing het ses van die 11 regters beslis dat seks teen
vergoeding nie grondwetlik is nie. Die beslissing het die uitspraak van die Johannesburgse
Hooggeregshof verlede jaar, wat die verbod op die ontvangs van geld in ruil vir seks
opgehef het, ter syde gestel. Dit het ook die Hoërhof se uitspraak gehandhaaf dat die
besit van 'n bordeel ongrondwetlik is. (SABC Nuus, 9 October 2002)
Daar is egter alreeds pogings om druk op die parlement uit te oefen om die wet te
verander.
Dokters verbind om verslaafde vroue te help
Dokters vir Lewe Internasionaal (DVL) het hulle blydskap te kenne gegee oor die
uitspraak van die Suid-Afrikaanse Grondwetlike Hof wat prostitusie onwettig verklaar.
Sedert 1996 toe die saak in die laer howe begin het, was DVL betrokke as staatsgetuie. In
die beoordeling van die finale saak voor die Grondwetlike Hof, is uittreksels van DVL se
insette aangehaal.
Die getuienis wat DVL in die hof gelewer het, toon duidelik dat prostitusie op sigself
vroue verneder, en dat dit aanleiding gee tot gewelddadige misbruik van prostitute deur
kliënte sowel as koppelaars.
Verdere getuienis is gelewer dat prostitusie die internasionale handel in vroue bevorder;
dit lei tot kinderprostitusie; is 'n hoë risiko vir die verspreiding van seksueel
oordraagbare siektes, veral MIV/vigs; dit hou verband met ernstige dwelmmisbruik en dit is
'n openbare steurnis.
DVL het hulle verbind om enigiets in hulle vermoë te doen om voort te gaan en om om te
sien na die toestand van vroue wat vasgevang is in die moderne slawerny van prostitusie.
Hierdie vroue moet bygestaan word in die ontwikkeling van beroepsvaardighede om sodoende
ander beroepe te kan vind. Vir hierdie doel kan die volgende hulplyn geskakel word: 073
224 9221.
PIRAMIDE-SKEMAS EN MULTIVLAK-BEMARKING
(Deur Linda Magqabi, vervolg vanaf November/Desember-uitgawe)
Wat is Multivlak-Bemarking (MVB)?
Multivlak-bemarking staan ook bekend as direkte bemarking of netwerk-bemarking. 'n
MVB-Maatskappy is wettig omdat dit 'n manier is om sy produkte te verkoop. Dit is wanneer
die klem op die werwing van nuwe verspreiders val dat die MVB-maatskappy in 'n piramide
verander. Die struktuur van die organisasie neem dan die vorm van 'n piramide aan. Die
probleem van die groeimetode van so 'n struktuur is alreeds uitgewys. Gewoonlik gee
niemand in so 'n MVB-struktuur enige aandag aan hierdie feit nie. Die onbeheerde werwing
van verspreiders gee aanleiding tot die probleem van oorvoorsiening.
Enige besigheid moet aanvraag en voorsiening deeglik bestudeer. Die bestuur van
voorsiening en aanvraag is kritiek in enige besigheid vir enige produk of diens. Met enige
produk is daar 'n versadigingspunt, d.i. waar daar 'n oorvoorsiening is van 'n spesifieke
soort produk. As die voorsiening van 'n spesifieke produk verhoog, dan verlaag die
aanvraag. Daar is 'n ingewikkelde verhouding tussen hierdie faktore en die prys van die
produk, soos aangedui deur hierdie grafiek:

Wanneer die aantal verspreiders nie beheer word nie, kan versadiging van die mark
maklik bereik word sonder dat iemand dit opmerk, of erger nog sonder dat hulle dit wil
opmerk!
Waarskuwing!
Wees baie versigtig wanneer:
- u kits-rykdom belowe word.
- u vertel word "Almal sal hierdie produk wil koop!"
- die produk buitensporig duur is.
- ontevredenheid met u huidige situasie aangeblaas word.
- die persoon deur wie u gewerf word, sekere feite van u weerhou.
- die persoon deur wie u gewerf word, druk op u plaas om onmiddellik aan te sluit.
- die klem geplaas word op die werwing van ander verspreiders.
Slot
Veroorloof my 'n paar slotopmerkings. Die Woord van God sê dat ons wakker en waaksaam
moet wees in alle dinge. Dié wat in die bediening staan, moet veral versigtig wees dat
niks hulle ywer vir die Evangelie sal uitblus nie. Wees bewus daarvan dat
Netwerk-bemarking baie tydrowend is, en 'n persoon maklik van sy geestelike doel kan
vervreem. Plaas jou vertroue en hoop in die Here Jesus Christus, en nie in mense en geld
nie. Moenie huiwer om hulp in te roep as daar enigiets is wat jy nie verstaan nie, of
waaroor jy onseker is. In Zoeloe sê hulle "Indlela ibuzwa kwabaphambili!" wat
beteken dat dié wat reeds daar was, gevra word om die pad te verduidelik. Ten slotte, 'n
wyse stelling deur 'n Godsman, as stof tot nadenke:
"Die lokaas is nie in die muisval om die muis kos te gee nie, maar om hom te
vang."
- Spurgeon.
OORDENKING WEES GEREED
"Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet watter dag julle Here kom nie."
Matteus 24:42
Die 24ste hoofstuk van Matteus het 'n menigte Christene se skippies laat sink wat
probeer het om datums en voorspellings oor eindtye vas te stel. Verse in die boeke Daniël
en Openbaring word gebruik vir berekeninge van hoe God sou werk in die laaste dae. Een
beweging gaan so ver om te verklaar dat die "kerkeeu" nou verby is.
Die duidelike boodskap uit Matteus 24 is "om gereed te wees". Ons moet gereed
wees vir die terugkoms van die Here, hetsy dit vir Sy wederkoms of as Hy ons neem deur die
dood. 'n Waaksame Christen is aktief besig om die Here en sy medemens te dien terwyl hy
wag vir Christus se wederkoms (vs 45). Ons Heer gee 'n voorbeeld van die
onwaaksame/onbetroubare dienskneg (vs 48-51) wat, instede van ten alle tye gereed te wees,
aanneem dat sy heer op weg vertraag is en dan begin om sy medediensknegte te slaan en so
word hy 'n werktuig van sonde. Dus sal ongehoorsaamheid aan die bevel van die Here om
"gereed te wees", uitloop op skinder en om andere te weerstaan en te beveg.
Klink dit bekend?
Mense in die wêreld doen hulle bes om gereed te wees. Onlangs het 'n eksentrieke Fransman
nuuswaardig geword: Crazy Eric soos hy bekend staan, word nou in die rekords
erken vir die buitengewone daad om meer as 1000 bruikbare voorwerpe permanent op sy lyf
rond te dra. Hy het die bynaam verwerf as die Switserse Weermagknipmes op twee bene en het
dit gemaak tot in die Guiness Book of Records. "Crazy Eric" is
gereed vir enigiets, maar moontlik nie vir die belangrikste nie - vir sy einde of die
terugkoms van Jesus.
Wat van u, is u gereed vir die terugkoms van Christus?
EERBEWYSE STROOM IN VIR SA CHRISTELIKE LEIER
Die afsterwe van Dr Ed Cain, redakteur van Signposts, word deur vriende
regoor die wêreld betreur. Dr Cain wat op 13 November in Pretoria begrawe is, het vele
navorsingstukke gelewer wat Bybelse demokrasie bepleit en was 'n wêreldleier om die leuen
in die bevrydingsteologie bloot te lê. Eerbewyse van Chrstenleiers in Suid-Afrika en
oorsee is op die begrafnis gelees.
In sy bydrae het die President van CFT, Fano Sibisi, gesê: "Dr Ed Cain. Ons het hom
Ed genoem. Die verse wat my aan hom laat dink was, 'Wie is eintlik die getroue en
verstandige slaaf vir wie sy eienaar oor sy ander slawe aangestel het om hulle op tyd kos
te gee? Dit is die slaaf vir wie sy eienaar by sy tuiskoms so aan die werk sal kry.
Gelukkig is hy' (Matt 24:45-46). Vir jare lank het Ed ons bygestaan met sy spesiale
analitiese vermoëns. Sy uitleg van wêreldgebeure en kwessies in die lig van Bybelse
beginsels, was vir vele al tot groot hulp.
Behalwe dat ons hom gehoor het op konferensies, kon ons hom soms tuis besoek saam met
Deane sy vrou en Miriam sy dogter, om sy insig te hoor oor verskeie sake. Dit was 'n
ondervinding om te sien hoe hy, soos 'n ervare snydokter enige onderwerp wat hom gegee
word, dissekteer. Al die jare wat ons hom geken het, was hy standvastig, onbeweeglik. So
'n man van God laat 'n leemte agter."
BELANGRIKE DATUMS:
- 5 - 7 September 2003 - CFT Algemene Jaarvergadering: Vir meer besonderhede kontak (032)
481-5512.
- 3 - 6 Maart 2003 - Kwasizabantu Predikantekonferensie Vir meer besonderhede besoek die
webwerf: www.kwasizabantu.com
|