Indeks:
Ware Liefde Wag neem deel aan staptog
vir onthouding in KwaZulu-Natal
"Ester-projek"
"Laat die
kindertjies..."
Oordenking: Opregtheid en n bietjie dwaasheid
"Soos donker kwasstrepe op die
skilderdoek van die lewe
"
Uit die mond van suigelinge...
Fatale aandag-afleiers
Belangrike Datums
WARE LIEFDE WAG NEEM DEEL AAN
STAPTOG VIR ONTHOUDING IN KWAZULU-NATAL
'n Groep jongmense, voorstanders van seksuele reinheid voor die
huwelik, het 'n staptog onderneem as deel van hulle pogings om MIV/vigs-bewustheid te
bevorder.
Die onthoudingstaptog "Uitdaging" het op Sondag 9 Junie in
Port Shepstone begin, en nadat omtrent 50 km per dag gestap is, het die groep Vrydag, 14
Junie, in Pietermaritzburg aangekom. Die doel van die staptog, wat saamgeval het met
Jeugdag, was om die jeug aan te moedig om hulle te onthou van seks voor die huwelik. 'n
Skare skoolkinders het langs die sypaadjie versamel om die stappers te verwelkom met hulle
aankoms in Durban op Woensdag die 12de Junie.
Tussen die deelnemers was Ishmail Maluleke, die toonaangewende
doelskopper vir Manning Rangers in die Premier Sokkerliga van die vorige seisoen.
"Dit is 'n baie goeie saak omdat baie jongmense die dodelike siekte opdoen, en dit is
ons verantwoordelikheid om te verseker dat ons beskerm is teen MIV/vigs. Die beste ding om
te doen, is onthouding," sê Maluleke. Verteenwoordigers van al nege provinsies,
insluitende Zweli Mkhize, die provinsiale Gesondheidsminister, sowel as Manto
Tshabalala-Msimang, die Minister van Gesondheid, het hulle ondersteuning kom toon en het
die inisiatief gesekondeer. (www.truelovewaits.org.za; SABCnews, 9 & 12 Junie)
"ESTER-PROJEK"
"Wie weet, miskien is dit juis met die oog op n tyd soos
hierdie dat jy koningin geword het." Ester 4:14
Augustus-maand, Vrouemaand, is dié maand in die jaar waarin
Christenvroue hulle stem moet laat hoor. Die "Ester-projek" mobiliseer CFT-vroue
om die pen of die telefoon op te neem en, om inisiatief te neem met betrekking tot
vroue-aangeleenthede.
Ons is almal bekommerd oor die Vigs-krisis in Suid-Afrika. Talle
organisasies, op verskeie maniere, wend pogings aan om die epidemie te stuit. Daar is
egter sommige Vigsvoorkomingsveldtogte wie se strategieë n dubbele boodskap uitdra,
wat hulle doel weerspreek en verwarring bring. U het seker opgemerk dat baie
advertensieborde langs die paaie dwarsoor die land die saak aanspreek - ongelukkig is baie
daarvan regtig afstootlik. Dikwels word geen melding gemaak van seks binne die konteks van
die huwelik, van self-dissipline of morele oorwegings nie. Ook word die risiko van
kondoom-mislukkings nie duidelik gestel nie.
En steeds dra Suid-Afrikaanse koerante die groeiende aantal
advertensies van gesellin-klubs en seksuele dienste wat te koop aangebied word. Die media
verskaf olie op die vuur wat hulle voorgee om te beveg.
Die werklikheid staan nou vierkantig voor ons dat MIV-vigs steeds
pandemies versprei ten spyte van al die geld wat reeds vir veldtogte en kondome uitgegee
is; dink aan die weeskinders, die lyding van die siekes, die armoede en ellende.
Ons is daarvoor verantwoordelik om te vra vir alternatiewe strategieë
in die oorlog teen vigs waar die amptelike strategie van die Departement van Gesondheid
beklemtoon word, naamlik: A = "abstinence"/weerhouding en B =
"behaviour"/ gedrag (getrouheid in 'n huweliksverhouding), as 'n alternatief tot
C = "condoms". Ongelukkig spandeer die Departement net geld op C... Ons moet
versoek dat hoër morele standaarde en gesinsvriendelike waardes gepropageer word.
Hier onder is kontaknommers van staatsamptenare, inbelprogramme op
radiostasies, koerante en verwante organisasies wat gekontak kan word met versoeke en
voorstelle in die stryd teen Vigs. Indien u meer inligting nodig het, skakel gerus CFT se
hoofkantoor: (032) 481-5512; mail @cft.org.za . (Ons sal dit baie waardeer indien u ons op
hoogte kan hou van enige terugvoer op u aksies en voorstelle, reaksies deur u ontvang,
ens.)
Kontaknommers:
1. Departement van Gesondheid:
Direkteur-generaal - Dr A. Ntsaluba
Privaatsak X828, Pretoria, 0001;
Tel: (012) 312-0000; Faks: (012) 325-5706;
E-pos: joanvs@health.gov.za
OF
Direkteur: Kommunikasie - Me Samantha Bloem
Tel (012) 312-0839; Faks: (012) 321-2207;
E-pos: bloems@health.gov.za
2. Radio Inbel-programme verskaf telefoonnommers om regstreeks te bel.
Byvoorbeeld:
* Tim Modise se program op SAFM, elke weeksoggend van 8:30 - 10:00;
Tel: 0891-104-207; e-pos: tyawab@safm.co.za
* RSG:
- Sarel Myburgh (Stasiebestuurder: (011) 714-2702;)
- Robert Young (Programbestuurder: (011) 714-4405)
- Praat met aanbieder elektronies: www.rsg.co.za /ze/se/se_index.html
3. Koerante en tydskrifte se kontaknommers vind mens normaalweg op die
eerste bladsy.
Vir meer inligting besoek die webwerf van CFT: www.cft.org.za
"LAAT DIE KINDERTJIES..."
"
kindertjies smeek om brood maar niemand gee vir hulle iets
nie." Klaagliedere 4:4
Wie sal die Brood van die lewe vir die kinders van vandag breek? Dit is
hartseer dat baie ouers en volwassenes nie tyd neem om kinders te vertel van die
Saligmaker nie. Kinders word daarenteen grootgemaak op 'n dieet van allerlei gruwelikhede
soos deur die televisie en videos opgedis. Selfs die onderwysstelsel het geen ware
voedsel om aan jong mensies te bied nie.
Terselfdertyd word ons deur die Kinderbeskermingseenheid van die
Polisie ingelig dat seksuele mishandeling van kinders dikwels binne die familiekring
plaasvind. My onmiddellike vraag is: Hoe kan 'n mens selfs begin om met mense te praat wat
nie tyd het om hulle kinders van Christus te vertel nie, en boonop so ver gaan om hulle te
molesteer?
Dink net n bietjie aan die slagting van ongebore kindertjies .
Selfs welvarende gemeenskappe in die wêreld, met alle luukshede tot hulle beskikking,
toon geen erbarming vir kinders nie, inteendeel, daar word gespog met hoërstygende
aborsiestatistieke.
Kan u die duiwel se strategie raaksien? Hy haat kinders, en gebruik
volwassenes om hulle te vernietig. Vermorsel hulle voordat hulle hul eerste asemteug buite
'n moederskoot kan neem. In gedeeltelike aborsie word party amper gebore, maar doodgemaak
by ontvangs.
Dié wat oorleef word gebore in 'n wrede wêreld. Wanneer hulle vra vir
dit wat hulle lewe sal gee, kry hulle dit nie. In plaas daarvan word hulle met haat,
woede, geweld, seksuele misbruik, ens. gevoed.
Klink dit na 'n te donker prentjie? Ek wens dit was.
Christus het die probleem raakgevat toe kindertjies na Hom toe gekom
het; dit was volwassenes wat hulle gekeer het. Daarom sê Hy: "Laat die kindertjies
na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die Koninkryk van die
hemele" (Matteus 19:14).
Hy het 'n streng waarskuwing gerig aan dié wat "kleintjies"
laat struikel: "Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, van My afvallig
laat word, vir hom is dit baie beter as 'n groot meulsteun aan sy nek vasgemaak en hy in
die see gegooi word" (Markus 9:42).
Wat is die antwoord op dit alles?
Christus het dit aan ons gegee op die Via Dolorosa -- die pad van
lyding. Terwyl vroue huilend hulle droefheid en jammerte vir Hom betoon het, het Hy die
soeklig van Homself weggedraai en op die ware probleem gerig: "Maar Jesus het na
hulle toe omgedraai en gesê, 'Vroue van Jerusalem, moenie oor My huil nie, huil oor
julleself en julle kinders...'" (Lukas 23:28).
Terug na 'n "selfondersoek en inkeer."
Dis ek, o Heer, wat gebed nodig het
Vir my.
Vir my vrou.
En dan vir die kinders. (Deur Fano Sibisi)
OORDENKING: OPREGTHEID EN N BIETJIE
DWAASHEID
"n Troebel fontein en n vuile bron, so is die
regverdige wat wankel voor die goddelose." Spreuke 25:26
In Prediker 10:1 lees ons: "Dooie vlieë laat salf stink en gis,
'n bietjie dwaasheid doen meer kwaad as wat wysheid en eer goed doen."
Dit het 'n aanvaarde norm geword dat 'n bietjie dwaasheid, klein
misdrywe, heeltemaal normaal is in die Christlike lewe. Paulus se voorskrif was om die
wapenrusting van God aan te trek, insluitende die borswapen van geregtigheid van Christus
en wat altyd 'n deel van die daaglikse lewe word (Efesiërs 6).
'n Polisieman wat pas teruggekeer het van 'n gewapende rooftog, het
gesien hoedat 'n vragmotor oor 'n stopstraat ry. Hy het die bestuurder beduie om van die
pad af te trek, en toe hy die voertuig nader, het die bestuurder hom tromp-op geskiet met
dieselfde wapen wat hy 'n kort rukkie tevore gebruik het om 'n winkel wat 24 uur oop is,
te beroof. Die gesteelde geld was langs hom op die sitplek. Die polisieman het twee meter
verder neergeval. Toe staan die polisie-offisier op, trek sy diensrewolwer uit, en skiet
twee skote. Die eerste koeël het deur die oop venster getrek, en die tweede het 'n gat in
die deur geruk en in die bestuurder se linkerbeen ingedring. "Moenie skiet nie!"
het die dief geskree, terwyl hy die wapen en die sak met geld by die venster uitgegooi
het. Wat die lewe van die polisieman gered het, was die baie lae Kevlar, die buitengewoon
sterk matriaal wat in koeëlvaste onderhemde gebruik word. Die polisieman het nog steeds
sy onderhemp aangehad van die toneel van aanhouding af (soos meegedeel deur Charles
Birch).
Trek aan hierdie borswapen van geregtigheid, en dit sal jou teen die
aanvalle van die bose beskerm. Wees op jou hoede vir hierdie pyle van die vyand, maar wees
selfs meer waaksaam vir jou eie hart en gedagtes. Net een of twee vlieë kan 'n aaklige
stank veroorsaak in plaas van die soet geur van Christus.
"SOOS DONKER KWASSTREPE OP
DIE SKILDERDOEK VAN DIE LEWE
"
Deur Jose A. Bufill (kankerspesialis in South Bend, Indiana.)
Diane Pretty, 'n gewone Britse vrou en ma van twee, het haar lewe
verlede maand op 'n "doodgewone" manier beëindig. Volgens haar dokter, Ryszard
Bietzk, was haar dood "volkome normaal, natuurlik en vreedsaam".
Dit kon anders gewees het as haar versoek om ondersteuning om te sterf,
dertien dae tevore deur die Europese Hof vir Menseregte toegestaan is. Naby die einde van
haar moeilike siekte wat drie jaar geduur het, het Pretty 'n veldtog geloods vir die reg
om te sterf, en verloor.
Terwyl ek haar doodsberig, wat wyd in Europa gepubliseer is, gelees
het, het ek onthou van my eerste kennismaking met ondersteunde selfmoord - die saak wat
nie tot 'n einde wil kom nie.
Kort na die voltooiing van my kliniese opleiding as 'n kankerspesialis,
het 'n kollega my gevra om 'n jong man wat MIV-positief was, te ondersoek. Vir 'n
hospitaal in New York in 1990, was die geval eenduidig. Die pasiënt, omtrent dieselfde
ouderdom as ek, het goed gelyk, sonder die kenmerkende gewigsverlies, wat so tipies is van
mense met gevorderde vigs. Hy het reeds 'n paar opgehewe rooi vlekke, die grootte van 'n
klein muntstuk, op sy rug en linkerarm gehad, wat kenmerkende letsels van Kaposi's sarcoma
is. Ek het na sy geskiedenis uitgevra, hom fisies ondersoek, en begin om sy siekte te
bespreek. Gou het hy egter my roetine onderbreek: "Kyk, al wat ek wil doen, is om te
sterf. Kan u my help?"
Wat? Jack Kevorkian en sy "selfmoordmasjien" was toe
voorbladnuus, en dit het iets na vore gebring waaraan ek persoonlik nog nooit gedink het
nie. Miskien is dit daardie stories, wat ek maar redelik onbetrokke en met weersin gelees
het, wat my pasiënt daartoe gelei het om 'n einde aan sy lewe te wil maak. Dis nou reeds
meer as tien jaar sedert ek die eerste keer met ondersteunde selfmoord kennis gemaak het,
maar dit verwar en verlei nog steeds siek mense en hulle dokters.
In staat om 'n produktiewe lewe te lei
Vir die onsensitiewe oog het my pasiënt gesond gelyk. Hy was nie
besonder onsteld of beangs nie. Hy het geen pyn gehad nie, en kon nog maklik asemhaal. Hy
was besig om te herstel, en kon verwag om weer 'n produktiewe lewe te lei. Tog het hy sy
lewe ondraaglik gevind, en wou 'n einde daaraan maak.
Iemand anders sou miskien geneig, of selfs verplig gevoel het om hom te
help om sy lewe te beëindig. Wanneer swaarkry, of dit nou geestelik of fisies is, aanhoud
en oorweldigend word, mag dit baie menslik lyk om 'n einde aan alles te maak.
Ek kan egter nie help om te voel dat hierdie tipe "genade"
nie die regte soort is nie. Om doktersondersteunde selfmoord aan te beveel, is om te
ontken dat lyding enige waarde het, en om te sê dat die afwesigheid van enige iets
onaangenaams noodsaaklik is vir 'n lewe wat die moeite werd is om te leef.
Elkeen van ons sal op een of ander tyd moet swaarkry. Om dit van jou af
te skud of om daarvan weg te hardloop, beteken dat jy jou in 'n skynwêreld terugtrek. Ons
moet dit eerder moedig in die gesig staar, en probeer om iets van die doel daarvan te
verstaan.
Voeg diepte en perspektief by
Soos donker kwasstrepe op die skilderdoek van die lewe, voeg lyding
skoonheid en prag by 'n skildery. Tot die tyd van die Renaissance, was skilderye eentonig
en van twee-dimensionele kwaliteit. Daarna, deur die gebruik van die
"lig-en-donker"-tegniek (chiaroscuro), het kunstenaars hulle voorwerpe se
helderheid en donkerheid op kragtige nuwe maniere uitgebeeld. Hulle werk het onverwagte
perspektief en diepte openbaar wat die werklikheid meer akkuraat weerspieël het.
Lyding doen aan die lewe wat chiaroscuro aan 'n skildery doen. Beide
help ons om klein, maar belangrike werklikhede te waardeer: waarhede wat maklik misgekyk
word, maar wat tog 'n meer presiese en realistiese prentjie van ons wêreld verskaf. Die
skadu's van lig of lyding bied ons 'n geleentheid om onsself te sien soos wat ons werklik
is: broos, behoeftig, en te dikwels uitgeput deur die dinge wat ons het of doen.
Lyding kan die lewe se diepste betekenis openbaar. 'n Algemene rede
waarom ondersteunde selfmoord aangevra word - en onbetwisbaar die oorsaak van die grootste
moontlike lyding - is eensaamheid: die onverskilligheid van ander, die gevoel dat jy nie
waardeer word nie of ongewens is, of nie bemin word of beminlik is nie. Van sulke lyding
leer ons dat mense hulle identiteit en waardigheid leer ken deur onvoorwaardelik lief te
hê en onvoorwaardelike liefde terug te ontvang.
Die swak en broses, die oues en kwesbares, die gestremdes en terminaal
siekes, kan daardie krag van onvoorwaardelike liefde laat ontluik. Ons kan ons tyd en
energie aan ander wy, om geen ander rede nie as dat hulle die moeite werd is.
Die woord "genade" of "meegevoel" kom van die
Latynse stamwoord wat beteken "om saam te ly". Ondersteunde selfmoord maak 'n
mens dood, maar daar is 'n ander slagoffer: Ons menslikheid -- die moontlikheid om saam
met die mees kwesbare lede van ons samelewing te ly -- sterf ook in die proses.
UIT DIE MOND VAN
SUIGELINGE...
n Klein dogtertjie van vyf jaar oud was teenwoordig by n
kerkbyeenkoms waar die tieners die geleentheid gekry het om Ware Liefde Wag-kaartjies te
onderteken, om hulleself aan seksuele onthouding voor die huwelik te verbind.
Voordat sy gaan slaap daardie nag, sê sy vir haar ma: "Mamma, ek
is so teleurgesteld dat ek nie ook n kaartjie kon onderteken nie". Die ma het
geantwoord: "Ja, jy moet twaalf jaar oud wees voordat jy kan teken." Dit het die
dogtertjie nie tevrede gestel nie, en sy gaan voort om te sê: "Maar ek wil ook rein
wees".
Die wyse moeder het toe voorgestel dat sy op die rekenaar n
spesiale kaartjie sal ontwerp vir die dogtertjie om te onderteken.
Die kleinding het gedink dat dit n uitstekende idee was en het
bygevoeg "Skryf asseblief daarop dat ek rein sal wees tot die dood toe."
FATALE AANDAG-AFLEIERS
As die duiwel jou nie voor versoeking kan laat swig nie, sal hy hom tot
sy gunsteling alternatief wend, naamlik om jou van God se weg vir jou lewe af op 'n
syspoor te bring. Dit is natuurlik net so verkeerd soos doelbewuste sonde - net meer
subtiel en moeilik om raak te sien. Die gevolge is baie keer erger as ooglopende boosheid
omdat die slagoffer baie tyd verkwis en partykeer sy hele lewe vermors met entoesiasme en
ywer in 'n verkeerde rigting, in plaas van in God se werk.
Kom ons bespreek 'n paar duidelike voorbeelde, asook 'n paar van die
meer subtieles:
Eindelose geslagsregisters - Verkeerde idees veroorsaak
verkeerde optrede en so kan verkeerde interpretasie van die Bybel rampspoedige gevolge
hê. Neem byvoorbeeld die enkele vers in die Nuwe Testament wat 'n ongelooflike
hoeveelheid werk en verkwiste tyd en ewige verlies tot gevolg gehad het. Paulus het die
Korintiërs gevra "wat wil die mense bereik wat hulle vir dooies laat doop?" (1
Kor. 15:29). Die Mormone het hierdie vers (wat oor die hoop van die wederopstanding
handel) geneem om te impliseer dat doopseremonies namens die gestorwenes uitgevoer moet
word, om hulle daardeur te red. Die enigste manier om hulle gedoop te kry, is om dit
namens die gestorwene te doen, of hulle dit wil hê of nie. Om gevolmagtigde
doopplegtighede te hê, moes 'n mens die name van die gestorwenes hê. Dus: die Mormone
het die beste geslagsregisters in die wêreld. Hulle sal tot uiterstes gaan om die name
van mense op te soek wat eeue gelede gesterf het. Geweldig baie energie (en miljoene
werksure) is in 'n vrugtelose, eintlik belaglike, syspoor ingepomp in plaas daarvan om die
Here se weg te volg soos wat dit baie eenvoudig in die Bybel uitgespel word.
Die meerderheid kultusse het op soortgelyke wyse ontwikkel: hulle
konsentreer op minder belangrike dinge en volg dan die verkeerde pad vir baie geslagte.
Maar laat ons verder gaan as om kultusse oop te vlek - want hulle is
maklik om te verdoem en hulle foute staan in skerp kontras teenoor God se waarheid. Wat
van die Christen, die een wat Christus gevind het en vergifnis vir sy sondes ontvang het?
Behalwe vir die baie sondige aandag-afleiers, is daar 'n hele reeks ander aandag-afleiers
wat hom kan besig hou en nutteloos maak vir die Here se werk. Kom ons kyk na 'n paar:
1. Saak-Christene
Tallose Christene volg hierdie doodloopstraat omdat dit so reg lyk. 'n
Kwessie, veral 'n Bybelse saak, kan die gelowige só kwel dat hy min tyd het vir 'n
verhouding met God en al sy energie daaraan wy om vir 'n saak te veg. Natuurlik moet ons
Christene ons lig laat skyn, en ons moet nooit terugdeins vir die oorloë vir die waarheid
wat God voor ons plaas "te midde van ontaarde en korrupte mense nie" (Fil.
2:15). Nietemin, laat ons nie ons Leidsman vergeet nie - die Kaptein van God se leërmag -
Christus Self. Hoe aaklig is dit as 'n kind van die Here 'n veldtog voer vir die lewe van
die ongeborenes terwyl hy self besig is om geestelik dood te gaan, of wreed is teenoor
dié rondom hom wat wel lewendig is. Wat 'n skande as 'n Christen teen genadedood veg,
maar nie sorg vir die bejaardes wat God in sy eie familie geplaas het nie. Is die
inspirasie agter ons entoesiasme Christus Self, of net 'n goeie saak?
2. Navolgers van dodelike profesieë
Ontelbare gelowiges het reeds met entoesiasme hulle werk bedank, oseane
deurkruis, en alles laat vaar in gehoorsaamheid aan die "profetiese woord" wat
iemand by 'n byeenkoms oor hulle uitgespreek het. Die swak Christen plaas sy vertroue
volkome in iemand se woorde (wat hulle dikwels oor baie ander ook uitspreek), en verwag
dan dat God hom sal seën vir sy gehoorsaamheid. Jare later, as die arme gelowige
uiteindelik besef dat die profesie nie van die Here af was nie, kom hy miskien tot
besinning. Hy besef dan, wanneer hy die Here toelaat om hom met Sy ware lig te verlig, dat
hy sy tyd verkwis het en op 'n dwaalspoor was. Die skade aan sy loopbaan, familie en
reputasie kan geweldig wees.
3. Deskundiges op foute
Daar is 'n fyn lyn tussen Bybelse kritiek op hedendaagse foute, en om
'n bediening te hê wat gegrond is op persoonlike kritiek teen andere. Daar is so baie
dinge verkeerd met ander bedienings en talle foute by ander predikers van die Evangelie,
maar om 'n deskundige in kritiek te word, kan baie verkwiste jare tot gevolg hê. Sommige
mag hele bedieninge daarop bou om ander bedieninge te beveg; hoewel baie in 'n meer
private tipe professionele kritiek verval. Miskien begin dit as 'n grief of n wrok.
Daar is diegene wat begin met ware lig oor die foute van ander. Wat ookal die oorsprong,
die resultaat is dat hulle almal onbekwaam raak om enigiets vir die Koninkryk te doen, en
hulle verval tot suur skeptici. Daar is baie raak gesê dat daar geen monument vir kritici
opgerig is nie.
4. Dwalinge oor eindtye
Slegs die ewigheid sal openbaar hoeveel gelowiges in hierdie slagyster
getrap het. Omdat eskatologie (die studie van die dinge van die eindtyd) so aantreklik is
en omdat stellings in Daniël en Openbaring (behalwe ander gunsteling profetiese
gedeeltes) so 'n versoeking is om te interpreteer, was dit al 'n valstrik vir menige
kosbare Christene om aanspraak te maak op spesiale insig in die ware interpretasie. Dit
moes n sekere entoesiastiese bediening geweldige bedrae geld gekos het om 'n
advertensie in toonaangewende Suid-Afrikaanse koerante te plaas, wat 27 Julie 2002 as die
dag van die wederkoms van Christus verklaar het. Die dag het gekom en gegaan, en die
enigste wat in ekstase was van vreugde, was die koerante wat twee vlieë met een klap
geslaan het: Hulle het duisende verdien met die halfbladsy-advertensie, en het, sonder die
gewone anti-Christelike kommentaar, die dwaasheid van fanatikuste openbaar gemaak.
'n Groeiende tipe profetiese dwaling van die waarheid, is n
ekstreme betrokkenheid by Israel. Groot getalle Christene gaan verder as wat die Skrif
beveel, en bring hulle lewens vir Israel deur. Reëlings vir Jode om terug te keer Israel
toe, of om deel te hê aan spesiale vierings (wat oorbodig is omdat ons nie langer die
skaduwee het nie, maar die werklikheid deur Christus), is party van die maniere om jou
lewe te vermors en die geleentheid om by te dra tot die opbou van die ware Koninkryk van
God, te verloor. Ja, ons moet Israel seën en bid vir die bekering van die Jode, maar 'n
obsessie oor Israel kan ontaard in 'n geloof dat daar twee weë van verlossing is, en dat
die uitverkore volk 'n "tweede kans" kry.
5. Gevoelsfladderers
'n Groot deel van die Christendom volg altyd die nuutste neigings. Dit
maak nie saak hoe hard die nuutse gier uiteindelik inmekaarstort nie - hulle is altyd
gereed vir die volgende een. Elke nuwe golf, wat aan die Heilige Gees toegeskryf word,
moet meer sensasioneel wees as die vorige een. Hulle het 'n onversadigbare sensasielus. Of
dit die groei van bene is, of n agteroorvallery, n gegiggel of goudstof -
hulle aptyt vir méér word nooit versadig nie. Hulle fladder rond in 'n wêreld van
gevoels-Christendom en word al meer ongevoelig vir die Here se gevoelens en gebooie.
6. Intellektuele magteloosheid
Net so gevaarlik as die kategorie hierbo, is diegene wat op die
rampspoedige ompad van algehele geloof in hulle eie verstand wegdryf. Hulle afdwaling is
so geleidelik dat hulle nie in staat is om te besef dat hulle die pad verlaat het nie.
Miskien het Paulus sommige van hulle in gedagte gehad toe hy gepraat het van dié wat
"altyd iets wil leer maar tog nooit tot die kennis van die waarheid kan kom nie"
(2 Tim. 3:7). Hulle beroem hulleself op die vermoë om te kan dink en redeneer, maar in
werklikheid het hulle magteloos geword omdat hulle geloof in hulleself is en nie in die
Here Jesus nie. Dit is rampspoedig vir die kerk as hierdie geestelike ontmandes leiers in
hulle denominasies is.
"Wees dus op julle hoede dat julle nie meegesleep word deur die
dwaling van beginsellose mense en so van julle eie standvastigheid beroof word nie. Sorg
daarenteen dat julle steeds toeneem in die genade en kennis van ons Here en Verlosser,
Jesus Christus" (2 Pet. 3:17&18).
1 Kor. 15:58: "Wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig
in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie
tevergeefs is nie".
BELANGRIKE DATUMS:
* 5 - 7 September 2003 - CFT Algemene Jaarvergadering: Vir meer
besonderhede kontak (032) 481-5512.
* 7 - 14 Desember 2002 - Kwasizabantu Jeugkonferensie: Onthou asb.
beddegoed en eetgerei. Vir meer besonderhede kontak (032) 481-5500.
* 3 - 6 Maart 2003 - Kwasizabantu Predikantekonferensie Vir meer
besonderhede kontak (032) 481-5500.