WARE
VERDRAAGSAAMHEID
Kjell Olsen het hierdie artikel op die Internasionale Dag van
Verdraagsaamheid op 9 November 2001 voorgelê.
Vandag is dit die Internasionale Dag van Verdraagsaamheid. Net verlede
week het ek by Ground Zero in New York gestaan, die mees skokkende voorbeeld van
onverdraagsaamheid hierdie eeu. As jy oor die puinhope van die hoogste torings ooit ter
wêreld heenkyk, die galsterige, suur reuk van rook en stof steeds hangende in die lug, en
wetend dat 5000 mense nog in hierdie puinhope lê, dan word die betekenis van
onverdraagsaamheid opvallend duidelik. Hierdie daad is gepleeg deur diegene wat die woord
'vryheid' haat, en die land verag, met seker die vryste politieke sisteem in die wêreld.
Terwyl die onverdraagsaamheid van vryheid die onderliggende oorsaak van
hierdie terreurdaad is, is dit ook waar dat die reaksie hierop onverdraagsaamheid teenoor
sulke gedrag moes wees. Amerika moes terugslaan. Om die daad waarin duisende op 11
September gedood is te verdra, sou eenvoudig meer vryheid vir terrorisme tot gevolg gehad
het. Eenvoudig gestel, onverdraagsaamheid moes afreken met onverdraagsaamheid. Die vraag
is: wie se onverdraagsaamheid is reg? En die logiese vraag wat hieruit spruit, is wie se
definisie van reg en verkeerd verdra kan word.
Sonder enige maatstaf van goed en sleg, reg en verkeerd, bevind die
mensdom hom noodwendig in 'n penarie rondom die hele onverdraagsaamheidskwessie.
Die Bybel, die Woord van God, is die standaard wat die toets van die
tyd deurstaan het. Daarin vind ons God se vaste standaarde en maatstawwe van goed en sleg.
Hierdie onaangeleerde wet van reg en verkeerd is in die natuur van elke mensehart
ingegraveer.
Net gister, stap ek verby die huis van 'n man wat kort tevore vir die
tweede keer geskei is, en toe verklaar het dat hy tot die Indiese Shaman geloof behoort.
Hy het vir homself 'n volledige tipi met 'n kring van klippe gebou om sogenaamde heilige
vuur daar te brand. Die tipi, gemaak van ou, vuil komberse is 'n seer oog langs sy groot
huis. Dit het my herinner aan die Bybel se maatstaf vir ons eie pogings om godsdienstig te
wees, waar daar staan: "ons geregtighede (is) soos 'n besoedelde kleed" (Jes
64:6).
Wanneer ons ookal ons eie standaarde opstel, lei dit altyd tot
onverdraagsaamheid teenoor die lewende God en Sy weë.
Laat my so 'n bietjie voortborduur op hierdie waarheid met behulp van
'n voorbeeld uit kinderopvoeding:
Het jy al ooit ouers dopgehou wat met hulle klein kindjie speel? Hulle
is altyd op hulle hoede ingeval daar iets is wat die kind se gesondheid of veiligheid
bedreig.
"Moenie in die straat hardloop nie!" "Oppas, die stoof
is warm!" "Dwelms kan jou doodmaak."
Ma's en pa's wat hulle tienerkinders liefhet, waarsku hulle nog:
"Wag tot jy getroud is."
Al hierdie soorte stellings het te doen met gedrag, en wanneer dié
gedragsvorme misbruik word, kan dit siekte, besering en selfs die dood veroorsaak. Ma' en
pa's is baie onverdraagsaam wanneer dit by vernietigende gedragspatrone kom, want hulle is
lief vir hulle kinders.
In die beskaafde gemeenskap bestaan daar 'n behoefte aan
onverdraagsaamheid teenoor sekere gedragsvorme: die vernietigende en negatiewe. 'n
Samelewing wat sulke verwoestende gedragspatrone duld, is niks beter daaraan toe as ouers
wat goedsmoeds staan en toekyk hoe hulle kind deur 'n motor omgery word nie.
Hoe kan 'n mens vernietigende gedrag onderskei?
Nog 'n gesegde kom by my op. "Aan sy vrugte sal jy hom ken."
Die VIGS-pandemie byvoorbeeld, is 'n duidelike aanwyser dat sekere gedragspatrone
ontmoedig moet word; dat die menslike samelewing onverdraagsaam behoort te word teenoor
die lewenstyl wat sulke gedrag aanmoedig.
Verdraagsaamheid teenoor seksuele onsedelikheid, en die absurde mening
dat ons gemeenskap perversie moet verdra as net maar 'n ander vorm van seksuele uiting,
het tot gevolg dat miljoene jonk sterf. Dit is nie 'n deug nie. Dit is 'n doodsvonnis.
Liefde, vergifnis en meegevoel is deugde. Om iemand lief te hê wat
deur 'n vragmotor getref gaan word, beteken om hom uit die pad te pluk, nie om hom aan te
moedig om na die vragmotor te hardloop nie.
So is dit nodig vir ons om onverdraagsaam teenoor vernietigende
gedragspatrone te wees. Ware liefde vereis niks minder nie. God het sekere standaarde in
Sy Woord gestel. Dit is nie onderdrukkende wette nie, maar soos Jakobus dit stel:
"die wet van vryheid".
Wanneer ons wette opstel wat in skrille kontras met God se geopenbaarde
wil staan, sal dit noodwendig rampspoedige gevolge hê. Die samelewing mag wel spog oor sy
verdraagsaamheid teenoor pornografie, aborsie en homoseksualisme, maar eintlik gee dit net
uitdrukking aan sy onverdraagsaamheid en haat teen God. Hierdie lewende God het in Sy
Woord verklaar dat daar nie met Hom gespot mag word nie, want "wat jy saai sal jy
maai". Verkragting, bloedskande, die miskenning van der duisende lewens, en die
verwoesting van gesinsbeskerming, is maar enkele van die gevolge wat die mensdom alreeds
oes.
Ware verdraagsaamheid moet altyd begin met 'n liefde vir God en Sy
Woord. Die Tien Gebooie, bv. is gegee om ons te beskerm. Onverdraagsaamheid teenoor moord
skenk aan ander die reg om te lewe; onverdraagsaamheid teenoor egbreuk beskerm egpare en
hulle kinders; onverdraagsaamheid teenoor diefstal gee die reg om te mag besit.
Kom ons keer terug na God se wet van vryheid, en sodoende sal ons ware
verdraagsaamheid teenoor alles wat wonderlik en goed is, verseker.
ONSKENDBARE LEWE-SONDAG
'Onskendbare Lewe'-Sondag word jaarliks op die Sondag naaste aan 1
Februarie herdenk - die datum toe aborsie op aanvraag in Suid-Afrika in 1997 gewettig is.
Hierdie jaar word dit vir 3 Februarie beplan.
Op hierdie dag word kerke aangemoedig om onderrig te gee oor aborsie en
te bid dat dit beëindig sal word. Bewusmakingsartikels en radioprogramme behoort deel uit
te maak van die Christen se media opleidingsveldtog. Met die prediking teen aborsie, is
die doel nie om mense te oortuig dat aborsie 'n sonde is nie, selfs die aborteur herken
dit alreeds. Mense moet oortuig word dat dit "onverdraagbaar" is, daarom is
Christene moreel verplig om aksie te neem om dit stop te sit. Dit kan hulle deur protes
aan te teken, politiese stemwerwery, voorsiening van alternatiewe uitkomste of
ondersteunende bydraes vir die saak.
DAGBOEK VAN "LOERBROER"
HUISGENOTE
Beroemdheid in 'n kits, kamers in die Emperor hotel by Caesars, en
vergoeding vir 'n optrede van tussen R3000 en R5000 per uur. Dit is wat die
"Loerbroer"-huisgenote te beurt val ná hulle uitsetting uit die
"Loerbroer"-huis in Randburg. Afgesien van hulle beroemdheidstatus, tree die
huisgenote almal as eregaste op, word hulle kommentare oor die radio gevra, en word hulle
in advertensies gebruik.
Nie al die huisgenote word egter in dié wolk van beroemdheid gehul
nie. Jeanine, 'n onderwyseres van die Wes-Kaap, het in 'n storm van omstredenheid by die
huis uitgestap, en die publiek het nie veel van haar gedink nie. Haar optrede in die huis
het 'n geweldige reaksie teen haar uitgelok, en 'n haat-aanklag, wat later teruggetrek is,
is teen haar aanhangig gemaak, en van haar gedrag het skerp kritiek uitgelok. Daar is ook
'n moontlikheid dat sy haar werk as onderwyseres kan verloor.
"Loerbroer" is 'n afloer vertoning wat die afloersindroom van
die kykers bevredig. Die deelnemers het hulle op die mees onsedelike en liederlike maniere
gedra. Die vervaardigers van die stuk, sowel as die deelnemers en die kykers, het egter
die heel belangrikste aspek van die saak vergeet. Dit is naamlik dat God die enigste Een
wat geregtig is daarop om "af te loer" wat ons doen, alles sien en hoor wat deur
hulle gedoen word. Dit geld vir die deelnemers aan "Loerbroer". Hy is die
enigste Een wat ons aanspreeklik sal hou vir die manier waarop ons ons lewens hier op
aarde deurgebring het. As Christene wat staan vir die waarheid, behoort ons nie onsself te
verontreinig deur na sulke perverte programme soos "Loerbroer" en "Love
Cruise" te kyk nie.
Wat is "Love Cruise"?
In Fox se nuwe een uur reeks "Love Cruise", gaan sestien
ongetroude mans en dames tussen die ouderdomme van 22 en 35 jaar, op die oop see vaar in
'n soeke na romanse en verhoudings. Kameras sal elke oomblik van die reis vaslê wanneer
hierdie mense deur die Suid-Karibiese see van Grenada tot by Aruba vaar. Aan die begin van
elke episode, (elke 3 dae), sal die ongetroudes afpaar om 'n kajuit te deel, en om in 'n
reeks van daaglikse fisiese- en verhoudingspeletjies te kompeteer. Aan die einde van elke
episode sal die mans dan stem oor watter dame die skip moet verlaat, en die dames oor die
mans. Die paartjie wat wen, ontvang 'n kontantprys en 'n reis om die wêreld. Hierdie
vertoning sal van die begin Januarie af gebeeldsend word, en word beskou as erger as
"Loerbroer".
Wat hierdie vertoning skilder, is niks anders as suiwer pornografie
nie. Dit is nie "love cruise" of "liefdesreis" nie, maar 'n "lust
cruise" of "wellusvaart", want dit is wat hier die botoon voer. Die
begeertes van die vlees, begeerlikheid van die oog en die trots van die lewe. As Christene
hierdie vertonings kyk, is hulle meer skuldig voor God as die heiden wat daaraan deelneem.
VIGS IN SUID-AFRIKA
Binne verloop van vyf jaar, sal een Suid-Afrikaner per minuut aan 'n
Vigs-verwante siekte sterf, tensy aksie nou geneem word. Teen 2005 sal daar ses miljoen
mense met Vigs besmet wees, en daar sal meer as 1600 sterftes per dag in Suid-Afrika wees.
Hierdie land het die snelste groeiende epidemie van enige land in die wêreld. Een uit
elke vyf volwassenes is alreeds geinfekteer en die infeksiekoers styg met 2000 per dag.
Vigs is die enkel mees belangrikste strategiese kwessie wat tans die
Suid-Afrikaanse besighede konfronteer, volgens Stephen Kramer, hoof van die Vigs
Navorsingseenheid by Metropolitan. Die direkte kostes met betrekking tot MIV/Vigs, in die
vorm van verhoogde bydraes vir mediesefonds, groep lewens- en ongeskiktheidsdekking, kan
verdubbel teen 2005 en verdriedubbel teen 2010. 50% van die beddens in die grootste
provinsiale hospitale is reeds deur mense met Vigs in beslag geneem, en wat nog voorlê is
tien keer erger. 'n Vloedgolf van Vigsgevalle gaan nog in Suid-Afrika gesien word, en die
gesondheidsstelsel sal hard getref word. In Suid-Afrika, sal die bruto binnelandse
produksie na verwagting 17% laer vir 2010 wees as wat dit sou wees sonder Vigs.
Vigs in Afrika
Volgens beramings deur 'UNAIDS', het 34,3 miljoen mense in die wêreld
Vigs. Van al die mense wat met MIV saamleef, woon 90% in sub-Sahara Afrika, Suid-Oos Asië
of Latyns-Amerika. Nagenoeg 19 miljoen het gesterf aan Vigs, 3.8miljoen van hierdie
sterfgevalle was kinders onder die ouderdom van 15 jaar. Daar was 5.4 miljoen nuwe
Vigsbesmettings in 1999, 4 miljoen daarvan in Afrika. 13.2 Miljoen kinders is wees
agtergelaat deur Vigs, 12.1 miljoen van hierdie kinders in sub-Sahara Afrika.
Die totale getal Afrika-mense wat met MIV of Vigs saamleef is tans 25.3
miljoen. In 8 Afrika-lande, is ten minste 15% van die volwassenes besmet. Afrika is die
tuiste van 70% volwassenes en 80% kinders wêreldwyd wat met Vigs saamleef, en het
driekwart van die meer as 20 miljoen mense wat wêreldwyd aan Vigs gesterf het, begrawe,
sedert die epidemie begin het. In 1997 was dit geskat dat publieke gesondheidsuitgawes vir
Vigs alleen reeds 2% van die bruto binnelandse produksie oorskrei het in 7 van 16
Afrika-lande.
Meer as een kwart volwassenes van werkers-ouderdom is besmet met MIV in
sommige sub-Sahara gemeenskappe. Geldelike bronne word uitgeput wanneer families 'n
familielid moet versorg wat siek is met Vigs. Hierdie bronne sou vir ander benodighede en
die kinders se toekoms benut kon word. Die mense wat agtergelaat word is weeskinders, en
die ouer mense wat die las moet dra om vir ander familielede te sorg, moet uit 'n bron van
verminderende opgeleide en talentvolle werkers put.
Die Amerikaanse Sensus Buro voorsien dat Vigs sterfgevalle en die
verlies van toekomstige populasie deur die dood van vroue van vrugbare leeftyd, sal
beteken dat teen 2010 sub-Sahara Afrika 71 miljoen mense minder sal hê as wat daar
andersins sou gewees het.
DIE NUWE KURRIKULUM - HOE RAAK DIT
JOU?
Gedurende die laaste paar maande vind ons 'n geweldige polemiek rondom
die omstrede leerplan wat deur die Departement van Onderwys voorgelê is. Christene vir
die Waarheid se amptelike reaksie hierop lui soos volg:
"Namens die 104 000 lede van Christene vir die Waarheid wil ons
graag ons bekommernis uitspreek oor die Minister van Onderwys se voorgestelde Nuwe
Kurrikulum Riglyne. Die dokument beslaan 1400 bladsye en as gevolg hiervan maak dit
opmerkings in fyn besonderhede baie moeilik. Ons pleidooi is dus beperk tot slegs 7 punte:
1. Is dit werklik nodig vir 'n nuwe kurrikulum? Onderwysers en kinders
sukkel reeds om by te bly met die huidige leerplan. Nuwe veranderinge en veral dié van
radikale aard vervat in die voorgestelde dokument, sal waarskynlik die huidige vlak van
verwarring laat toeneem. Laat onderwysers toe om die werk waarvoor hulle opgelei is, te
doen. Laat hulle die basiese beginsels van onderwys aan kinders wat in 'n desperate
situasie 'n nood het vir stabiliteit en 'n deeglike akademiese basis, oordra. Hierdie nuwe
leerplan sal beslis verwarde onderwysers meebring wat gevolglik verwarde kinders sal
veroorsaak.
2. Die algemene indruk van die dokument is dat dit eeder politieke
lewensbeskouing as suiwer onderwys weerspieël. Dit wil voorkom asof die skrywers van die
dokument 'n basiese waarde sisteem aanhang, wat bestaan uit die nuttelose ideale van
"Transformational Outcomes". Dit voorspel niks goeds as die voorgestelde
leerplan vurig aandring op nuwe waardes nie. Die waardes word op kinders afgedwing wat in
elk geval aan ouers en nie aan die staat behoort nie. Dit sluit aspekte soos waardering
vir alle godsdienste, 'n "breë" omskrywing van die begrip gesin, evuolusie van
die mens, aborsie en vele ander waardes in.
3. Dit wil voorkom asof sekere ontsaglike leemtes doelbewus nie
aangespreek word nie en dit ten spyte van die oënskynlike beheptheid met fyn besonderhede
in die dokument. Byvoorbeeld, die verspreiding van Islam in Afrika word ingesluit terwyl
die geskiedenis van Christen sendelinge in Afrika glad nie aangespreek word nie. Slawerny
word eensydig in die lig van die Westerse vorm daarvan beskryf maar dit ignoreer
Islamietiese slawerny in Afrika. Wil die Departement van Onderwys werklik slegs sekere
dele van die geskiedenis aan die volgende geslag oordra?
4. Na bestudering van die "Lewensoriëntering" en
"Sosiale Wetenskap" leer-areas, is ons geskok om te sien dat geen melding van
kuisheidsopvoeding gemaak word nie. Dit blyk asof daar in teendeel 'n besondere klem op
seks-opvoeding geplaas word. Dit is egter nie vanuit 'n gesins-vriendelike oogpunt soos
wat deur die oorgrote meerderheid Suid Afrikaanse gesinne aangehang word nie. Die
Departement van Onderwys is bekend vir sy geskiedenis van goeie samewerking met die
"Planned Parenthood " organisasie. Ons is daarom in die besonder besorgd dat
hulle nou daardie soort van radikale seksuele opvoeding mag kies. Hierdie losbandige
opvoeding van PPSA word ongetwyfeld geheel en al verwerp, deur gesinne wat suiwer waardes
aan hulle kinders wil oordra.
5. Dit is verontrustend dat daar voortdurend melding gemaak word van
neutraliteit, terwyl die staatswaardes in feitlik elke paragraaf baie sterk na vore kom.
Dit is egter 'n illusie en in sigself 'n onware standpunt oor die realiteit. Fundamenteel
is dit godsdienstig en dus in skril teenstelling met die sogenaamde neutraliteit van die
dokument.
6. Die nuwe leerplan beoog om 'n nuwe waarde, naamlik simpatie vir
homoseksualitiet, te vestig. Dit is verregaande dat "seksuele oriëntasie" aan
ons kinders geleer moet word, asof dit gelykstaande aan "ras, geslag, ouderdom,
gestremdheid, kultuur en godsdiens", is. Op die koop toe sal ons kinders, ten einde
te vorder na die volgende graad, beoordeel word aan die hand van "hulle aktiewe
toewyding aan konstitusionele regte en sosiale verantwoordelikhede met 'n besondere
sensitiwiteit vir uiteenlopende kultuur en lewensbeskouinge".
7. Daar is 'n ooglopende poging om die begrip "gesin" te
her-definieer. Onder die voorwendsel van die integrasie van menseregte word kinders, in
graad R, aangemoedig om 'n "breë begrip van die gesin" aan te leer. Ons wil
hiermee veronderstel dat dit homoseksuele en lesbiese huwelike sal insluit.
Ons stel voor dat, die Nuwe Kurrikulum Riglyne, in sy geheel verwerp
word. Om werklik vooruitstrewend te wees, behoort die Departement van Onderwys eerder by
beproefde leerinhoud en tegnieke te bly. Ongelukkig is lewensbeskouing en politieke
oorwegings soms belangriker as werklike opvoeding en sal hierdie Nuwe Kurrikulum Riglyne
waarskynlik geïmplementeer word. Die meeste onderwysers vind die beginsels van
Uitkoms-gerigte Opvoeding geweldig verwarrend. Hulle sal waarskynlik eerder geneig wees
tot 'n skikking, waar beproefde tegnieke en inhoudsvakke, geklee in die nuwe terminologie
van die Departement, aangebied word. Ouers sal in die besonder waaksaam moet wees oor die
inhoud van hulle kinders se boeke. Laat die Staat nooit vergeet dat dit steeds ouers is
wat deur God bestem is om hulle kinders te onderrig nie."
Eerw. K. Meshoe (LP) het gesê: "Christen ouers moenie dat die
Staat inhoud wat onderrig by die huis ondergrawe, bepaal nie." Hy het ook verder
gesê: "Ouers moenie afstand van hulle Godgegewe verantwoordelikheid doen om hulle
kinders op te voed nie. Die Staat moet ook ophou om seksuele aktiwiteit in skole aan te
moedig"."
CFT PERSVERKLARING OOR VERKRAGTING
EN PORNOGRAFIE - 14 NOVEMBER 2001
Die Suid-Afrikaanse publiek was met afgryse vervul deur die ontdekkings
van kinderverkragting: 'n 9 maande-oue babatjie is deur 'n bende verkrag; 'n oupa is
toegesluit omdat hy sy 4 jaar-oue kleindogter verkrag het. Mense-lewens word vernietig
deur wellus.
Is daar 'n verband tussen die beskikbaarheid van pornografie en die
styging in kinderverkragting? Kon mans wat pornografiese materiaal kyk, hulle begeertes
bevredig deur kinders in hulle eie families en buurt as maklike en kwesbare teikens te
gebruik?
Die SAPD bevestig dat waar arrestasies gemaak is ná verkragtings, die
gemeenskaplike faktor gewoonlik pornografiese materiaal was. Wetgewers behoort die skade
wat pornografie aan kinders berokken, te herondersoek.
Pedofiliese pornografie en 'volwasse' pornografie behoort veroordeel te
word omdat enige vorm van pornografie die kyker aanwakker om dit wat hulle gesien het, te
beoefen op klein mensies omdat hulle nie terug kan baklei nie en geïntimideer kan word.
Die verband tussen volwasse pornografie en kinderverkragting behoort
opnuut ondersoek te word en die uitslae van hierdie navorsing gepubliseer te word, om druk
op die wetgewers te plaas om die beskikbaarheid van pornografie te beperk.
Verkragting
Die SAPS Kriminele Informasiesentrum in Pretoria verklaar dat 13540
kinders jonger as 17 gedurende die jaar 2000 verkrag was van hierdie getal was 7899 onder
die ouderdom van 11 jaar. Ongeveer 2400 meisies onder die ouderdom van 17 was gemolesteer
1511 van hierdie gevalle was onder 11-jarige ouderdom.
Volgens statistieke word 10 vroue per uur in Suid-Afrika verkrag. 1306
Vroue was deur die loop van 2000 gemolesteer. 1627 Seuns onder die ouderdom van 17 jaar
was seksueel gemolesteer, 884 gevalle was jonger as 11 jaar en 743 gevalle tussen die
ouderdom van 11 en 17 jaar. Daar was 113 gevalle van bloedskande met kinders en ongeveer
5000 gevalle van ontvoering, waarvan 1025 kinders jonger as 11 jaar was en 917 hiervan
tussen die ouderdom van 11 jaar en 17 jaar was. Hierdie is slegs die gevalle wat
gerapporteer was.
Waarom is hierdie verskynsels aan die toeneem?
Ons samelewing het dekadent geword en losbandigheid het algemeen
geword. Alkohol en dwelms is vryelik beskikbaar. Verkragters gebruik hierdie middele om
hulle misdade uit te voer.
Verkragters het dikwels 'n geskiedenis van drankmisbruik, 'n lae
selfbeeld en lae frustrasie toleransie vlak. Rassisme speel 'n rol in verkragting - dit is
'n daad van aggressie teen 'n persoon van 'n ander velkleur.
Verkragting en molestasie het drasties toegeneem sedert die Wet op
Films en Publikasies in 1996 aanvaar was. Dit het tot gevolg gehad dat daar 'n drastiese
toename in pornografie was. Die beskikbaarheid van hierdie materiaal op televisie, in
films ens. het die getal verkragtings radikaal laat toeneem.
OORDENKING: "KYK, EK MAAK ALLES
NUUT" OPENBARING 21:5
As ons ons wens kon gehad het, sou daar dalk dinge in die afgelope jaar
wees wat verkieslik vergete sou bly. Dit is ook waar dat dit nou die gebruik geword het
dat mense 'n lysie maak van sake wat hulle gewillig is om eenkant te laat, en nog 'n lysie
van goeie voornemens wat hulle graag sou wou uitvoer in die nuwe jaar.
Tog bly ons pogings om onsself te volmaak, altyd tevergeefs.
God vertel ons van die bose mensehart en beloof dan dat Hyself die hart
van klip kan wegneem, en dit vervang met die hart van vlees. Jesus het aan die geleerde
Nikodemus die geheimenis van wedergeboorte verduidelik.
Paulus brei uit op die belangrikheid daarvan om na Christus te kom,
sodat ons in nuwe skepsele verander kan word. "Daarom, as iemand in Christus is, is
hy 'n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword." (2
Kor. 5:17)
Wanneer dit alles tot 'n einde gekom het, sê God dat Hy weer, as die
Skepper van alle dinge, die ou dinge verby sal laat gaan en alles nuut sal maak. (Open.
21:5)
Ja, sekerlik is daar hoop om die ou bose dinge in ons harte en lewens
te vernietig en hoop te gee op 'n nuwe lewe in Christus by die kruis!
BELANGRIKE DATUMS
* KwaSizabantu Predikantekonferensie: Vir meer as n dekade is
hierdie konferensie op n jaarlikse basis gehou. Die volgende konferensie is vir
Maart 2002 beplan, maar vanweë baie ander aktiwiteite en geleenthede in die Here se werk,
was dit nie moontlik om betyds die nodige reëlings vir hierdie konferensie te tref nie.
Dit is besluit om die volgende een in Maart 2003 D.V. te hou. U sal op hoogte van die
datum en ander reëlings gehou word, soos die tyd nader kom.
* 5 - 12 Julie 2002 KwaSizabantu Jeugkonferensie: Onthou asb. beddegoed
en eetgerei. Vir meer besonderhede kontak (032) 481-5500.