cft_logo_animate.gif (16428 bytes)

Christians for Truth

       

 


AGM
CFT Beliefs
Christian News
Newsletter
Q & A
Actions
Articles
Links
Contact
President
Audio
                        

Christene vir die Waarheid - Nuusbrief
Augustus - September 2001
Christians for Truth - CFT NEWS (as nuusblad geregistreer)
Privaatsak 250 • Kranskop • 3268 • E-pos: mail@cft.org.za • Tel: (032) 481-5512 • Faks: (032) 481-5507 • Webbladsy: www.cft.org.za

IN HIERDIE UITGAWE:

HEMELVAARTDAG – HET U DIT IN GEDAGTE GEHOU?

Vyfduisend pamflette om Hemelvaartdag in gedagte te hou, is aan die publiek uitgereik.
Baie het gereageer met: "Is dit dan 'n vakansiedag more?" Slegs sewe jaar het verloop sedert die dag as vakansiedag van die kalender verwyder is, en reeds het baie die dag, een van die belangrikste Christelike vakansiedae, vergeet!
Ons dank gaan aan almal wat agter die skerms gewerk het om God se seën op die dag se verrigtinge in Durban af te bid.
Veel onderlinge seën is gedurende die voorbereiding om die dag as 'n spesiale geleentheid in Durban te vier, ervaar. Die meedoen van verskillende denominasies word besonder waardeer.
Leraars van verskillende kerkgroepe is die geleentheid gebied om die skare te herinner aan die belangrikheid van Hemelvaartdag.
'n Kragtige boodskap ten opsigte van reinheid en onthouding is deur die Jeug-Burgermeester van Durban gelewer.
Die bywoning was bemoedigend: tenminste 300 mense uit verkillende kerkagtergronde was aaneenlopend teenwoordig gedurende die twee ure wat die opelug byeenkoms geduur het terwyl mense gekom en gegaan het. Sommige het by kantoorvensters uitgehang om die verrigtinge, wat in die middestad plaasgevind het, te volg.
Verskillende leraars het elk 'n kort maar geseënde boodskap gebring. Eerwaarde Alvis het 'n uitnodiging gerig waarop meer as 150 mense gereageer het deur na vore te kom vir sondebelydenis, gebed of vir 'n her-toewyding van hulle lewens aan Christus. Die veelvolkige massakoor het baie deur hulle sang item tot trane beweeg.
'n Verbygaande teruggevalle prediker is tot stilstand gedwing deur wat hy gehoor het en het gevolglik om hulp gesmeek terwyl hy jammerlik verhaal het hoe hy Christus verlaat het om Satan te dien. Een van die leraars teenwoordig het hom na Christus teruggelei. Al sou die terugkoms van hierdie afgedwaalde skaap die enigste vrug op hierdie uitreik wees, dan was dit werklik die moeite werd.
'n Drie by vier meter advertensiebord op 'n sleepwa met die woorde: "He has ascended: proof that He will return", is deur die strate van Durban op 24 Mei, Hemelvaartdag, getrek.

WARE LIEFDE WAG AAN DIE GANG!

Ware Liefde Wag (Suid-Afrika) het 'n besonder besige 6 maande agter die rug. Buiten vir toere na Pretoria, Soweto, Donnybrook, Ladysmith en die Kalahari, was WLW by heelwat aksies betrokke, en het met duisende skoolkinders gepraat.
Op 16 Junie, het WLW-ters na die wenstreep van die Comrades Maraton gegaan en WLW-strooibiljette uitgedeel. Die reaksie hierop was baie positief. WLW het ook 'n klankgreep aan verskeie radiostasies vrygestel regoor die land. Die persverklaring wat by die klankgreep ingesluit is, het groot reaksie van die media uitgelok, en het ‘n paar onderhoude tot gevolg gehad.
Die mees verstommende vir al die WLW-ters was die verandering in houding van die jongmense teenoor WLW. Voorheen, was WLW positief ontvang. Nou is die reaksie entusiasties. Die jeug van Suid-Afrika is moeg vir die indruk wat aan hulle gegee is dat hulle nie in staat is om hulleself te beheer nie. En verder, die effek van MIV/Vigs word deur baie jong mense persoonlik ondervind.
Uiteindelik word hulle 'n boodskap van hoop en bemoediging gebied.
Ware Liefde Wag konsenstreer op die oomblik daarop om fondse te verkry. Die jeug moet met hierdie boodskap van reinheid en lewe bereik word.
(Vir meer inligting en opdatering besoek hulle webwerf:
www.truelovewaits.org.za)

MARIE STOPES KLINIEK ONTTREK UIT PIETERMARITZBURG

Marie Stopes Gesinsbeplanningskliniek het onlangs uit Pietermaritzburg onttrek. Twee private dokters beplan om aborsie teen 'n goedkoper prys beskikbaar te maak. 'n Woordvoerder vir Christene vir die Waarheid Pietermaritzburg, Eerw. Derrick King, het gesê dat CFT beplan om alles in hulle vermoë te doen om die voortsetting van hierdie diens te voorkom. 'n Verpleegsuster wat vir die Marie Stopes kliniek werk, het teenoor Eerw. King erken dat die skuif vanweë finansiële redes plaasvind. Protesaksies deur CFT het tot die suksesvolle sluiting van die Nightingale Gesinsbeplanningskliniek gelei (15 January 1998), en sederdien was 'n hele paar protesaksies en demonstrasies deur CFT buite die Marie Stopes kliniek gereël. (CFT Pietermaritzburg, 25 Junie)
Hierdie artikel is ‘n uittreksel uit die ‘Christian News’, ons twee-weeklikse nuusbrief. Indien u belang sou stel om hierdie nuusbrief te ontvang, kontak ons vir meer besonderhede, of skryf vir die elektroniese weergawe in by: <cftnews-list-subscribe@cft.org.za> U mag die Onderwerplyn en boodskapblok leeg laat, omdat die rekenaar beide ignoreer. Dit is slegs in Engels beskikbaar.

KLONING (DEEL 2 VAN 2, VERVOLG VANAF DIE JUNIE/JULIE 2001 NUUSBRIEF)

Is Embrio’s Mense?
Nou is die etiek ter sprake. Menslike embrioniese stamselnavorsing beteken altyd dat baie jong embrio’s, wat navorsers graag "pre-embrio’s" wil noem, doodgemaak moet word.
Die tipiese navorsingsprosedure behels dat stamselle uit 'n embrio wat enkele dae oud is en volgens IVB-tegnieke geskep is, uitgehaal word, voordat die selle die geleentheid gehad het om in meer gespesialiseerde tipes selle te ontwikkel. Die res van die embrio word dan vernietig.
Dat daar baie streng etiese riglyne nodig is voordat daar met hierdie tipe navorsing voortgegaan kan word, word bewys deur die feit dat:
1) 'n Groep navorsers in Australië verlede jaar aangekondig het dat hulle daarin geslaag het om die genetiese materiaal van 'n skaap en 'n mens te kombineer. Die embrio wat hieruit ontstaan het, is toegelaat om vir 20 dae lank te ontwikkel voordat dit vernietig is.
2) Die "Time Magazine" van enkele maande gelede het 'n foto in gehad van 'n aap wat in die nag gegloei het. Dit is reggekry deur die gene van 'n jellievis wat in die nag gloei, by die gene van die aap te voeg. Die tydskrif het 'n werklike foto van die aap in gehad.
3) Nog 'n groep wetenskaplikes het verlede jaar aangekondig dat hulle daarin geslaag het om die die gene van 'n hond, 'n skaap, 'n aap en 'n mens te kombineer.
Wat hierdie ontwikkelings nog meer kommerwekkend maak is die feit dat baie leiers op die gebied van die bio-etiek in die wêreld hierdie tipe van navorsing ondersteun.
Peter Singer wat dikwels die hoëpriester van die bio-etiek genoem word, en wat in die afdeling oor bio-etiek in die Encyclopedia Britanica geskryf het, glo dat 'n pasgebore baba nie as 'n mens beskou kan word nie. Hy het nou van gedagte verander en glo dat 'n kind tot op een jaar oud, nie 'n volwaardige mens is nie.
Hy glo dat sekere diere soos bobbejane, ape, honde varke en hoenders en selfs garnale "persone" is.
James Watson, 'n wenner van die Nobelprys en die eerste direkteur van die Menslike Genoom Projek sê: "En nog iets, omdat niemand anders die moed het om dit te sê nie, as ons beter mense kan maak omdat ons weet hoe om gene by te sit, waarom sal ons nie? Wat is verkeerd daarmee? Evolusie kan ook geweldig wreed wees en om te sê dat ons oor die volmaakte genetiese samestelling beskik en dat dit iets onskendbaar is? Ek sal graag wil weet waar dié gedagte vandaan kom. Dit is tog uiterste lawwigheid."
Gregory Pence, die professor in filosofie in die Departemente van Geneeskunde en Kunste aan die Universiteit van Alabama sê: "Baie mense is lief vir hulle `retriever' honde, en hou van dié honde se vriendelike gesindheid teenoor kinders sowel as volwassenes. Kan mense ook op dieselfde manier gekies word? Sal dit so verskriklik wees om ouers toe te laat om ten minste 'n sekere tipe te kies, op dieselfde manier waarop dieretelers probeer om 'n honderas te kies wat by die behoeftes van 'n familie aanpas?"
Lee Silver, professor van molekulêre biologie en neurowetenskap aan die Princeton Universiteit sê: "In die toekoms sal die GenRich wat 10 persent van die Amerikaanse bevolking sal uitmaak, almal kunsmatige gene hê. Alle aspekte van die ekonomie, die media, die vermaaklikheidsbedryf en kenners van die bedrywe, sal deur die GenRich klas beheer word. Die natuurlike klas mense sal as swak betaalde diensverskaffers of arbeiders werk. Uiteindelik sal die GenRich klas en die natuurlike klas, twee heeltemal afsonderlike spesies word, wat nie kinders van mekaar sal kan hê nie, en met net soveel romantiese belangstelling in mekaar as wat die mens vandag vir 'n sjimpansee het. Maar ek wil sê dat die gebruik van die tegnieke van voortplantings-genetika onafwendbaar is. Of ons daarvan gaan hou of nie, dit sal deur vraag en aanbod op die wêreldmark bepaal word."
Francis Fukuyama, professor van Openbare Beleid by die Instituut van Openbare Beleid aan die Universiteit van George Mason sê: "Die Biotegnologie gaan regkry wat die radikale ideologieë van die verlede met hulle ongelooflike kru tegnieke, nie kon regkry nie: dit is om 'n nuwe tipe mens tot stand te bring. Ons sal binne die volgende paar generasies die geskiedenis van die mens afgesluit hê, omdat ons weggedoen het met die mens soos ons hom nou ken. 'n Nuwe geskiedenis wat na die mens volg, sal dan begin".
Lester Thurow, 'n professor in ekonomie aan die `Sloan School of Management', MIT sê: "Sommige sal dit haat, ander sal baie daarvan hou, maar biotegnologie lei onvermydelik na 'n wêreld waar plante, diere en mense, gedeeltelik mensgemaak sal wees. Dink maar net! Veronderstel ouers kan 30 punte by hulle kinders se IK byvoeg, sou u dit nie ook graag wou doen nie? En as u dit nie sou doen nie, gaan u kind die domste kind in die buurt wees!"
Gregory Stock, die direkteur van UCLA se program vir geneeskunde, tegnologie en die gemeenskap sê: "Sodra mense sou begin om hulle self deur gentiese manipulasie te verander, sal die definisie van wat 'n mens is, begin verander. Deur slegs 'n klein getal gene wat die groei van 'n mens beheer, te verander, kan 'n mens in iets heeltemal anders verander. Om te vra of dit wys of wenslik sou wees om so iets te doen, sou beteken dat die belangrikste punt misgekyk word, dit is nie 'n kwessie van keuse nie, dit is die onvermydelike gevolg van tegnologiese vordering."
Enige persoon wat sy gevolgtrekking op die wetenskaplike feite oor die ontwikkeling van die ongebore kind baseer, moet erken dat lewe by konsepsie (bevrugting) begin. Dit is egter nooit toelaatbaar om 'n mens se lewe te neem, selfs 'n embrio se lewe, om 'n siekte te genees nie. Op hierdie oomblik het min mense nog gedink oor die implikasies wat die nuwe genetiese tegnologie op etiese gebied inhou (wat reg of verkeerd is). Sommige van die dinge is ingewikkeld, en baie Suid-Afrikaners het die tegniese vermoë wat 'n mens instaat stel om dit te kan doen, verwar met die verantwoordelikheid om te sê of dit gedoen mag word of nie.
Maar Suid-Afrikaners moet begin wakker word. Dit is nie iets waaroor die wetenskaplikes moet besluit nie.
(Deur Dr. Albu van Eeden)

OORDENKING: -

Deur die eeue heen word gelowige vrouens van volke opgeroep tot gebed. Jeremia, die profeet van ouds, het ook so 'n kreet gehad tydens die geestelike noodtoestand van sy volk.
Jeremia 9:20-21
"Want hoor, o vroue, die Woord van die Here … en leer julle dogters 'n weeklaag en vir mekaar 'n klaaglied. Want die dood het in ons vensters opgeklim … die kinders van die straat af uitgeroei … die jongmanne van die pleine af …"
Ons leef ook in 'n geestelike noodtoestand vandag. Sonde en die dood maai ook ons kinders en jongmense af. Ons kan Jeremia se woorde beaam en bylas by die woorde van Peter Marshall:
"Die wêreld het genoeg vroue wat weet hoe om deftig te wees.
Dit het vroue nodig wat bereid is om eenvoudig (genoeg) te wees
(om te bid).
Die wêreld het genoeg vroue wat weet hoe om briljant te wees.
Dit benodig vroue wat moedig (genoeg) sal wees (om te bid).
Die wêreld het genoeg vroue wat gewild is.
Dit benodig meer vroue wat rein (genoeg) is (om te bid).
Ons benodig vroue, en mans ook, wat eerder beginselsvas is,
as sosiaal korrek."

PROTESBYEENKOMS BY "THE CABINS" (ELANDSLAAGTE)

CFT-lede en ander besorgdes van uit Ladysmith (Natal) het buite "The Cabins" op 18 en 19 Mei 2001 geprotesteer.
Aan die Media het CFT die volgende verklaar:
* Die doel van die protesaksie is om die volgende onder die aandag te bring:
* Die seksbedryf is onaanvaarbaar vir die meeste inwoners van Ladysmith.
* "Entertainment for men" is maar net 'n ander term vir prostitusie Prostitusie is nog steeds onwettig in Suid Afrika.
* Prostitusie is 'n vorm van misbruik van die vrou; dis 'n praktyk waar vroue ‘n seksuele voorwerp gemaak word.
* Prostitusie is anti-familie en is die rede waarom vele huwelike skipbreuk ly.
Plekke soos "The Cabins" behoort as onwettig deur die Ladysmithse Stadsraad verklaar te word.
"The Cabins" is nadelig vir die openbare gesondheid, morele waardes en algemene welvaart van die inwoners van Ladysmith en omliggende gebiede, en behoort daarom deur die owerhede gesluit te word (CFT).

LAASTE KOPPIGHEID - BEPEINSINGS OOR TIMOTHY MCVEIGH

In Lukas 23:39 lees ons: "En een van die kwaaddoeners wat opgehang is, het Hom gesmaad en gesê: As U die Christus is, verlos Uself en ons".
So naby aan redding, slegs 'n paar voet weg van die sterwende Verlosser wat die sondes van die wêreld gedra het, en tog so ver. Die een kwaaddoener het tot op die laaste sy hart verhard. Hy het probeer bewys dat hy nog steeds 'n wil van sy eie gehad het, en dat hy nie bang was om te sterf nie. Toe hy na Christus geroep het om hom te red, was hy nie besig om te vra vir genade en redding nie, maar hy het saam met die skare die Here bespot.
Hierdie vergelyking het by my opgekom toe ek gedink het aan die tragiese verhaal van Timothy McVeigh, wat ook uittartend gebly het totdat hy deur die dood oorweldig is op 11 Junie 2001.
Luister na die volgende verslae:
* Terwyl hy stilgebly en geen emosie getoon het nie, is die bomplanter van Oklahoma City, Timothy McVeigh, Maandagoggend tereggestel. McVeigh is tereggestel deur middel van 'n dodelike inspuiting by die 'Federal Penitentiary' in Terre Haute, Indiana. McVeigh is tereggestel vir die bomaanval op 19 April 1995 in Oklahoma City, waarin 168 mense dood en honderde ander gewond is. Hierdie bom was die dodelikste terroristiese daad wat ooit in die VSA gepleeg is, en McVeigh was die eerste federale teregstelling sedert 1963. Die 33 jaar-oue Golfoorlog veteraan het nie 'n woord gesê in die laaste minute voor sy teregestelling nie. Media verteenwoordigers sê McVeigh het sy kop opgelig en na hulle gekyk, en toe na die plafon. Hy het met oop oë gesterf.
* Larry Whicher, die broer van 'n bomslagoffer, sê McVeigh het in die kamera gestaar met 'n koue, uitdrukkinglose kyk in die oomblikke voordat hy gesterf het. "Hy het uitdagend gelyk asof hy dit weer oor sou doen as hy kon", het Whicher gesê. "Ek dink nie hy het homself aan die Here oorgegee nie. Ek dink nie hy het hom bekeer nie, en my persoonlike mening is dat hy in die hel is", het hy bygevoeg. (CNN)
Timothy se laaste verklaring was 'n handgeskrewe afskrif van die gedig Invictus: Invictus is die Latynse woord vir onoorwinbaar, en dit is in 1875 deur William Ernest Henley geskryf.
Invictus
Uit die nag wat my omhul
Swart soos 'n kuil van pool tot pool
Dank ek die gode wat mag wees
Vir my onoorwinbare siel...
Ek is in beheer van my lot
Ek is die kaptein van my siel.
* McVeigh sou ook gesê het dat hy nie in 'n hiernamaals glo nie, maar as daar een sou wees, sê hy, dat hy sal "improviseer, aanpas en dit baasraak. As ek hel toe gaan, sal ek baie geselskap hê". (Natal Witness, 11 Junie 2001).
* Die volgende is die inhoud van President George W. Bush se verklaring Maandag ná die teregstelling van die Oklahoma City bomplanter, Timothy McVeigh: "Vanoggend het die VSA die swaarste vonnis voltrek vir die ernstigste misdaad. Die slagoffers van die Oklahoma City bomontploffing het nie wraak uitgeoefen nie, maar regverdigheid. En een jong man het die lot ontmoet wat hy ses jaar gelede vir homself gekies het." (Dit is duidelik dat President Bush plegtig verwys het na McVeigh se laaste woorde, "Ek is die baas van my lot".
* Dr Charles Colson het geskryf (8 Junie 2001): "Daar is vir baie Amerikaners nie 'n moeiliker kwessie as die doodstraf nie. Vir die grootste deel van my lewe het ek dit teengestaan. Ek het gereken die doodstraf is verkeerd omdat dit te maklik was om 'n fout te maak en 'n onskuldige persoon tereg te stel. ...Wel, 'n aantal jare gelede het ek terdoodveroordeeldes besoek in Menard, Illinois, en John Wayne Gacy ontmoet, wat in 1978 gevonnis is vir die grusame moorde van ten minste 30 mense, wat hy begrawe het onder die ruimte van sy huis in Chicago. Die eerste ding wat my getref het, was hoe doodgewoon Gacy gelyk het - soos 'n onderwyser of 'n besigheidsman. Die tweede saak was sy algehele uittarting: Hy het sy regte geëis, steeds aangedring dat hy onskuldig was, selfs terwyl die getuienis wat hom veroordeel het, oorweldigend was. Ek het daar weggegaan en gewonder of daar nie sommige gevalle was waar die enigste manier om reg te laat geskied, die doodstraf was nie. Dit het my laat teruggaan na C.S. Lewis se klassieke verhandeling 'Die Filantropiese teorie van straf'. Vir jare het moderne sielkunde geredeneer dat die misdadiger nie skuldig is aan die misdaad nie; hy is net siek, en het behandeling nodig. Lewis het egter geredeneer dat hierdie siening die mens van sy waardigheid stroop: Dit sê dat ons nie vrye sedelike wesens is wat verantwoordelik is vir ons optrede nie, maar eerder pasiënte wat behandel moet word vir die welsyn van die gemeenskap. Lewis het geskryf: Om egter swaar gestraf te word omdat ons dit verdien het, omdat ons 'van beter behoort te geweet het', is om behandel te word as 'n menslike wese wat na die beeld van God geskape is.' Ek het besef dat dit in lyn is met die kernvoorskrif van die Judees-Christelik geloof. Die Skrif leer dat mense verantwoordelik is vir hulle eie gedrag. Die doel van geregtigheid is nie om 'n nuwe mens te rehabiliteer of te skep nie, soos wetenskaplikes in 'n Weense laboratorium nie, maar eerder om die skaal van geregtigheid te balanseer. En soms is die enigste ding om te doen, om die oortreder te gee wat hy verdien: die doodstraf. Ek het my siening van die saak verander. So het ek geen probleem hoegenaamd met die staat wat die vonnis voltrek het in die geval van McVeigh nie. McVeigh het 'n afskuwelike misdaad gepleeg. Hy mag mislei gewees het in sy begrip van die sosiale orde, maar daar is absoluut geen verskoning vir die neem van onskuldige lewens in so 'n sinnelose daad van terrorisme nie. Ware geregtigheid vereis in sommige uitsonderlike gevalle buitengewone straf. En as daar ooit 'n geval was waar dit verdien is, is dit in Timothy McVeigh se geval. Nou het die staat geen ernstiger verpligting as om die swaard te gebruik om die orde te handhaaf nie. Dit is 'n ernstige geval: 168 mense is gedood en ontelbare lewens is verpletter. Ons behoort dit nie te vier, of politieke waarde te gee of te kommersialiseer, soos ons in Ter Haute gesien het nie. Ons behoort hartseer te wees dat sonde ons tot by hierdie punt gebring het. Soos hierdie vonnis voltrek is onthou dat die teregstelling van Timothy McVeigh nie gaan oor terapie, vergelding of gelykstelling nie. Dit handel oor reg, en die behoud van menswaardigheid."
Dit wil voorkom, volgens alle berigte, dat Timothy McVeigh opsetlik gekies het om sy hart te verhard tot die einde toe, soos die lasterende rower aan die kruis. Daar is, goddank, die totale teenoorgestelde van hierdie laaste hardheid: die ander rower. Die tweede misdadiger het ook langs Jesus gehang, en was net so skuldig as sy kollega. Op 'n manier, en deur God se genade, het hy sy sonde besef, en hom van sy vriend se lastering gedistansieer, en Jesus om genade gesmeek. En inderdaad het hy op die laaste minuut genade ontvang.
Maak 'n besliste keuse vandag. Kies Jesus Christus, en laat Hom die Kaptein van jou lewe wees. "Vandag, as julle Sy stem hoor, verhard julle harte nie soos in die verbittering nie." Heb. 3:15
Gebed: O God, wees U die Meester van my lot en die Kaptein van my siel.
(Deur K.E. Olsen)

BELANGRIKE DATUMS:

* 9 Augustus - Nasionale Vrouedag. (’n Vreedsame optog word vir KwaZulu-Natal in Pietermaritzburg beplan. Vir meer inligting kontak Derrick King: 033-387-2209)
* 31 Augustus-2 September - CFT Algemene Jaarvergadering (LET ASB. OP DIE VERANDERDE DATUM!)
* 1 Oktober - Internasionale Lewensketting Dag (Vir KwaZulu-Natal 7 Oktober)
* 4-6 Oktober - NAL-Konferensie. Vir meer inligting skakel: (031) 903-7359 of besoek die webwerf: www.nal.org.za

 

revolv.gif (20906 bytes) CFT Home